Wen: Mozart Requiem vir Paassondag in Brooklyn-teater

mozart-uitvoering.jpgʼn Uitvoering van die Oostenrykse komponis Carl Czerny (1791-1857) se verwerking vir twee klaviere van Mozart se bekende Requiem vind op Paassondag in die Brooklyn-teater plaas. Die pianiste is Wessel van Wyk en Willem de Beer.

Die Brooklyn-teater het op hierdie verwerking van Mozart se Requiem in d, K. 626, deur Czerny afgekom.

Klavierverwerkings vir vier hande van grootskaalse komposisies het in die 19e eeu voorsien aan die behoefte vir tuisoptredes en die genot van die gehoor.

Dié verwerking is ’n verrassende vonds vir liefhebbers van Romantiese klavierkuns aangesien dit meer as ʼn transkripsie en eerder ’n herinterpretasie van Mozart se Requiem is. Hierdie werk bied insig in hoe die vroeë 19de-eeuse gehore Mozart se werke beleef het.

Daar is weerklanke van Beethoven in die grootse “Rex Tremendae” terwyl die “Benedictus” sou kon herinner aan ’n kunslied van Schubert.

Die “Dies Irae” bevat puntige geornamenteerde frases vir die regterhand waarvan die moeilikheidsgraad getuig dat Czerny dit waarskynlik vir eie gebruik bedoel het. Hy was ’n briljante pianis wat onder andere Franz Liszt as leerling gehad het.

Die uitvoering in Brooklyn-teater sal aangevul word deur projeksies van beeldmateriaal, insluitend die Latynse teks van die Requiem wat in Engels vertaal is.

Kaartjies kos tussen R120 en R160 en is beskikbaar by die Brooklyn-teater by 012 460 6033 of aanlyn by Ticketspace.

WEN: Drie gelukkige lesers kan elkeen ʼn dubbelkaartjie wen vir die “Mozart Requiem” op Sondag 1 April in die Brooklyn-teater in Pretoria. Om in te skryf, stuur jou naam, van, kontaknommer, woonadres en antwoord na [email protected], en beantwoord die volgende vraag: Noem een van pianiste wat in die uitvoering optree. Die kompetisie sluit Donderdag 29 Maart. Wenners word per e-pos in kennis gestel. Die kompetisie is gesluit. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.