[Wen] Nádine vier 20 jaar met opskopkonsert

Nádine vier vanjaar 20 jaar in die musiekbedryf. Foto: www.nadine.net

Nádine vier vanjaar 20 jaar in die musiekbedryf. Foto: www.nadine.net

Die sanger en televisieaanbieder, Nádine, vier vanjaar 20 jaar in die musiekbedryf. Sy het by Maroela Media gekuier om te gesels oor haar twee 20-jaar-konserte, loopbaanhoogtepunte en haar planne vir die toekoms.

Nádine het vertel 20 jaar in die bedryf voel of dit in ʼn oogwink verby is. “Die 20 jaar het so vinnig verbygevlieg. As ek terugkyk op my loopbaan, sien ek baie bloedsweet en trane. Ek het my eerste toerbus in 1997 gekoop. Ek vra myself nou af of dit alles werklik moontlik is. Dit is ʼn wonderlike geskenk,” het sy gesê.

Hoewel sy verskeie hoogtepunte in haar loopbaan ervaar het, onder meer internasionale sukses met haar album This Time I Know, sê sy kleiner dingetjies speel dikwels ook ʼn groot rol. “Dis dingetjies soos wanneer ʼn jong kind vir my ’n drukkie kom gee of ʼn video stuur van hoe hulle my liedjies sing wat baiekeer uitstaan bo alles. Maar dis ook groot oomblikke op die verhoog soos toe ek saam met Susan Boyle en Louis Loock gesing het wat my dankbaar maak om hier te wees.”

Sy sê dit is belangrik om nederig te bly. Sy probeer ook daagliks haar waardes uitleef. “Die mense met wie jy vandag skouers skuur, is die mense met wie jy oor twee dekades steeds te doene gaan kry. Goeie waardes en die regte gesindheid is baie belangrik. Wanneer jy vriendelik is, onthou mense jou so. Die mense wat jy ontmoet op jou pad na bo, is ook die mense by wie jy verbygaan wanneer jy weer op pad af is.”

Die sanger het twee 20-goue-jare-konserte wat binnekort plaasvind. Sy sê mense moenie dink dis ʼn Gekkedag-grappie vir 1 April nie. “Dis Gekkedag, maar die konsert vind regtig plaas. Daar is 62 musikante spesiaal van België af om by my aan te sluit vir die vertonings. Ek gaan die liedjies sing wat vir my groot sukses besorg het. Dit sluit alles van ‘Krappies en Krefies’ tot ‘Skildery’ in.”

Nádine is binnekort te sien in Sneeuwitjie wat van 6 Mei tot 12 Junie op die planke is.

Haar 20-jaar-konserte vind plaas op 1 April by Carnival City se Big Top Arena en by die wynlandgoed Rhebokskloof in die Wes-Kaap. Kaartjies is beskikbaar by Computicket.

Let wel: Die kompetisie is gesluit. Vyf lesers kan elk dubbelkaartjies na een van Nádine se konserte wen. Stuur jou naam, van, kontaknommer en posadres en die antwoord op die volgende vraag na [email protected]: Hoeveel jaar vier Nádine in die musiekbedryf vanjaar? Die kompetisie geld tot 28 Maart. Wenners word per e-pos in kennis gestel.

Besoek Nádine se Facebook-blad of webwerf. Koop kaartjies vir beide konserte by Computiket.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Sarie ·

Baie geluk Nadine. Ek is trots op jou.. Jy is ‘n voorbeeld vir menige. Jou naam is skoon; geen vuil of negatiewe stories waarvan èk bewus is nie… Mag jy ons nog vir bàie jare met jou sang bekoor….

TJ Polokwane ·

Stem saam Sarie. Dan is Nadine nog beeldskoon daarby!!

zelda boshoff ·

Dankie vir sangeresse soos Nadina, Carika, Rina, Juanita en Sonja wat ordentlike rolmodelle vir ons jeug is|mag God hul lank seen|deesdae is die sangers in ons land n groot gemors met hul immorele waardes en skandes, veral die mans. Vrouens hou ons naam nog hoog.

Sune van Heerden ·

Dagsê Zia

Dankie vir jou navraag! Die wenner word vandag aangekondig.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.