Wen: Top SA kunstenaars by ‘Liefde by die Dam 2018’

Sewe van Suid-Afrika se gewildste kunstenaars deel vanjaar die Liefde by die Dam-verhoog by die Emmarentiadam, een van Suid-Afrika se mooiste konserttuine in Johannesburg.

Die Heuwels Fantasties, Karlien van Jaarsveld, Francois van Coke, Koos Kombuis, Elvis Blue, Bongeziwe Mabandla, Martin Bester en Bouwer Bosch is almal vanjaar saam op een verhoog te sien. Die komediant en akteur Schalk Bezuidenhout tree as seremoniemeester op.

Karlien van Jaarsveld.

Karlien van Jaarsveld. (Foto: Verskaf)

Dié gewilde konsert, wat vernoem is na Valiant Swart se treffer met dieselfde naam, vind Sondag 5 Augustus plaas. Die konsert streef daarna om as vertoonvenster vir die beste plaaslike talent te dien. Die program sorg vir die heerlikste musiek vir jonk en oud en is die ideale musiekbelewenis vir die hele gesin of ʼn lekker dag uit saam met jou vriende.

Die Heuwels Fantasties, Karlien van Jaarsveld, Francois van Coke, Elvis Blue en Bouwer Bosch was die afgelope tyd gereeld in die nuus met nuwe uitreikings en radiotreffers en het al elk verskeie gesogte Suid-Afrikaanse musiektoekennings verower.

Saam met een van ons land se mees invloedryke kunstenaars, Koos Kombuis, asook die nuwe gesig van “Afro-folk”, Bongeziwe Mabandla, en die immergewilde Jacaranda FM-omroeper en sanger Martin Bester, beloof Liefde by die Dam 2018 om ʼn onvergeetlike konsertervaring te wees.

Volgens Charlotte Kanter, bemarkingsbestuurder van die konsert, snoer Liefde by die Dam vanjaar kragte saam met Bouwer Bosch en sy Liefde Wen-span om ná afloop van die konsert komberse in te samel vir minderbevoorregtes.

“Ons help graag ander; bring jou kombers en laat dit ná die konsert agter. Liefde Wen sal seker maak dit kry die regte huis. Ons beoog om vanjaar 1 000 komberse tydens Liefde by die Dam in te samel,” het Kanter gesê.

Elvis Blue (Foto: Facebook)

Die kunstenaars wat vanjaar deel vorm van die konsert is almal ewe passievol oor liefdadigheid.

“Mens moet heel eerste jouself leer liefkry, dan kan jy ander mense liefkry. Ons het grootgeword in ʼn kultuur waar ons van kleins af geleer is om onsself te ontken en te misken, en skuldig te voel oor wie ons is,” het die sanger Koos Kombuis gesê.

Elvis Blue glo aan vriendelikheid. “Met kelners, petroljoggies en inbelsentrumbedieners. Dis dalk ʼn eenvoudige begin.”

Die hekke maak 10:00 oop. Kaartjies vir volwassenes kos R165, R75 vir kinders 12 jaar en jonger, en kinders onder drie kry gratis toegang. BBP-kaartjies, wat spesiale ingang en sitplekke naby die verhoog, gratis drankies en versnaperinge insluit, kos R595. Kaartjies is beskikbaar by Computicket.

Wen

Twee gelukkige lesers kan elkeen ʼn dubbelkaartjie wen na die Liefde by die Dam 2018-konsert 5 Augustus by die Emmarentiadam in Johannesburg. Wenners sal per e-pos in kennis gestel word. Die kompetisie sluit Woensdag 25 Julie.

Oops! We could not locate your form.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.