Wen: Trio dié Sondag in Brooklyn-teater

klaviertrio 1

(Foto: Verskaf)

’n Trio bestaande uit Lynette Pretorius (viool), Ian Craig (tjello) en Laetitia Orlandi (klavier) is eerskomende Sondagmiddag op die planke in die Brooklyn-teater in Pretoria in ’n kamerkonsert ten bate van die Gauteng Filharmoniese Orkes-fonds.

Die trio is deur Pretorius, ’n erelid van die Gauteng Filharmoniese Orkes, op die been gebring. Sy is ʼn algemene praktisyn van beroep en gebruik haar vrye tyd om in ensembles te speel en te komponeer.

Die program is ’n samestelling van uitdagende sowel as toeganklike werke deur komponiste uit die Romantiese en laat-Romantiese tydperk: dié van Dmitri Sjostakowitsj, Anton Arensky, Felix Mendelssohn asook een van Pretorius se eie werke.

Sjostakowitsj het ’n besonderse voorliefde gehad vir kamermusiek en het heelwat in dié genre geskryf. Sy eerste Klaviertrio, op. 8 in c, het hy beskryf as ’n “gedig”. Dis ʼn vurige werk uit die pen van ʼn jong, verliefde komponis, en een van die mees romantiese werke wat hy geskryf het.

Die Arensky Klaviertrio no. 1, op. 32 in d is ongetwyfeld ʼn meesterstuk en ʼn staatmaker in alle klaviertrio’s se repertorium. Dis ʼn werk propvol aangrypende temas. Arensky skryf idiomaties vir elk van die instrumente en plaas elkeen onderskeidelik in die kollig.

Mendelssohn het die Klaviertrio no. 1 in d, op. 49 op 23 September 1839 voltooi. Dié trio is die daaropvolgende jaar gepubliseer en word sedertdien erken as een van die beste kamerwerke van die komponis, asook sy gewildste. Dit is ʼn energieke, melodiese werk wat daartoe aanleiding gegee het dat Robert Schumann Mendelssohn die Mozart van die 19de eeu genoem het, “die mees verhelderende van musikante…”.

Van Pretorius is haar Trio no. 1, op. 10 ingesluit in die program.

Die uitvoering is Sondag 25 Februarie om 15:00 in die Brooklyn-teater. Kaartjies is beskikbaar by www.brooklyntheatre.co.za. Navrae: 012 460 6033.

WEN: Drie gelukkige lesers kan elkeen ʼn dubbelkaartjie wen vir die uitvoering van die klaviertrio op Sondag 25 Februarie in die Brooklyn-teater in Pretoria. Om in te skryf, stuur jou naam, van, kontaknommer, woonadres na [email protected], en beantwoord die volgende vraag: Deur wie is die trio op die been gebring? Die kompetisie sluit Vrydag 23 Februarie. Wenners word per e-pos in kennis gestel. Die kompetisie is gesluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.