Wen: Vier die liefdesmaand saam met Leah en Karin Kortje

Leah. (Foto: Verskaf)

Leah. (Foto: Verskaf)

Die gewilde sangeresse Leah en Karin Kortje bied Saterdag 23 Februarie ʼn unieke vertoning by die Taalmonument op Paarlberg aan.

Die vertoning is in die Tuinteater – ʼn kleinboetie van die bekende Paarl Amfiteater – op die sagte grasperk reg aan die voet van die monument. Besoekers is welkom om vooraf die ikoniese monument en natuurskone omgewing via wandelpaaie te verken terwyl die kinders hulself in die speelparke vermaak. ʼn Pragtige sonsondergang en maanopkoms is ʼn ekstra bonus.

Dié konsert is boonop deels ten bate van die Laat ons Lees!-geletterdheidsprojek vir kinders. Besoekers word dus versoek om hul harte oop te maak deur enige kinderboeke vir hierdie doel te bring en te skenk.

Leah se naam is al ʼn geruime tyd op almal se lippe. Die rolprent Susters, waarin sy een van die hoofrolle vertolk, het loketrekords laat spat, daarby was sy ook die 2018-aanbieder van die gewilde kykNET-program Boer soek ʼn vrou én haar musiekloopbaan neem haar oor die hele land heen.

Karin Kortje se loopbaan het wipplank gery vandat sy in die bekende Idols-sangkompetisie geseëvier het. Ondanks verskeie persoonlike uitdagings, het sy gewilde albums die lig laat sien en ʼn stigting van stapel gestuur wat aspirantkunstenaars in haar plattelandse tuisdorp onderskraag.

Karin Kortje. (Foto: Verskaf)

Karin Kortje. (Foto: Verskaf)

Kortje word as ʼn positiewe rolmodel beskou, veral danksy haar musikale toneelstuk This is my life wat later as Die hele storie op die Klein Karoo Nasionale Kunstefees opgevoer is en waarvoor sy ʼn Absa Kanna-benoeming ontvang het.

Konsertgangers word versoek om hul eie drankies (geen glas) en piekniekmandjies saam te bring, of bestel een (R300 vir twee mense, of R400 met ʼn mandjie ingesluit) vooraf by die Volksmond-restaurant by 021 863 2800. Koffie, ligte verversings, pizza, wyn en bier sal ook te koop wees.

Kaartjies is vooraf by Computicket en die Taalmonument beskikbaar teen R150 vir volwassenes, R140 vir studente en R70 vir kinders onder 13 jaar. Bring ʼn kombers of kussing en warm klere saam. Veilige parkering is beskikbaar (ʼn pendeldiens vervoer besoekers na die hek) en toegang word beheer. Geen honde of vure word toegelaat nie.

Wen

Een gelukkige leser het die kans om ʼn dubbelkaartjie te wen na die vertoning van Leah en Karin Kortje by die Taalmonument op 23 Februarie. Wenners word per e-pos in kennis gestel. Die kompetisie sluit Vrydag 15 Februarie om 08:00.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.