[Wen] Wen ʼn Kerry-Lee-album vir jou Kerskous

Kerry-Lee (Foto: Maroela Media)

Kerry-Lee (Foto: Maroela Media)

Liefde is die belangrikste van álles, meen die sangeres Kerry-Lee. Sy sing om liefde deur haar musiek te versprei – van die noorde tot suide.

Van nóg iets is sy oortuig: Jy móét aanhou baklei vir dit waarin jy glo.

Haar jongste album, Dans in die reën, is onlangs uitgereik en is iets waarin sý glo.

“Dit is ʼn album waarmee ek wil hê mense moet verlief raak op die liefde. Boonop wil ek mense ook herinner aan die liefde: hoe mooi dit is, hoe onvoorwaardelik, en dat dit ook verwys na respek en deernis en waardering. Dit sluit ook aan by die tema van ‘sewe sakke sout’ – om deur dik en dun ʼn pad te stap. Daar is saamsingliedjies en dansliedjies in die album en ek dink beslis dit is een van my bestes nóg,” sê sy.

Hoewel sy nie self liedjies vir die album geskryf het nie, was bekendes soos Hugo Ludick en Vaughan Gardiner in beheer van die skryfproses. Sy meen egter haar persoonlike ervarings is dikwels dít wat sy wil hê haar musiek moet oordra en daarom lewer sy altyd insette in die skryfproses.

“Ek dink elke persoon beleef die wêreld verskillend, maar ek dink my musiek spreek van my eie ervarings. Dis altyd moeilik om ʼn fyn balans te handhaaf met hoeveel van jouself jy mee in die openbaar leef, en hoeveel jy privaat hou. Ek dink dit is vir my belangrik dat aanhangers my ken, daarom gee ek nie om om op ʼn meer openbare manier te leef nie.”

Sy meen dié album is ook meer volwasse as haar voriges. “Ons het hierdie keer ʼn meer volwasse aanslag gekies en het dit heeltyd in gedagte gehou tydens die skryfproses. Dit was vir my belangrik om hierdie keer te sê wat vir my belangrik is, en dis natuurlik ook universele temas wat tot ʼn groter, en meer volwasse, gehoor gaan spreek,” het sy bygevoeg.

Vir meer inligting, besoek Kerry-Lee se Facebook-blad.

WEN: Vyf lesers kan elk ʼn Dans in die reën-album wen. Om in te skryf, stuur jou naam, van, kontaknommer, fisieke adres en jou antwoord op die volgende vraag na [email protected]: Wat is Kerry-Lee se album se naam? Die kompetisie sluit 12 Desember. Wenners word per e-pos in kennis gestel. Bepalings en voorwaardes geld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.