Wen: Woon Zaan Sonnekus se albumbekendstelling in Pretoria by

Die nuweling-rocksensasie Zaan Sonnekus het uit die staanspoor plaaslike musiekharte verower met sy aangrypende poëtiese lirieke, unieke klank en passievolle vertonings.

Sy debuutalbum getiteld Zonneblom is pas uitgereik. Volgens dié Pretorianer, met sy donker lokke en kunstige versameling tatoes, is dit ʼn baie persoonlike album wat oor verskeie fases van sy lewe handel.

“Die musiek in die album is nie net deur een ding geïnspireer nie, maar deur verskillende fasette van my eie lewe. Ek moes iewers in die persoonlike aspek daarvan die regte klanke en woorde vind om dit universeel te maak, maar ook persoonlik te hou. Dit is ’n legkaart van my ondervindings en ervaringe in die kort tydperk wat ek op aarde is,” verduidelik hy.

Hierdie alternatiewe Afrikaanse album is oor die laaste agt maande saam met Tertius Human van Coolerbox Brothers geskep en bestaan uit 12 magiese, oorspronklike snitte.

Twee van die liedjies, “Ek kan net bid” en “Hoog” is reeds vroeër vanjaar uitgereik en kan op nasionale stasies landwyd gehoor word en pryk bo-aan verskeie treffersparades. ʼn Derde liedjie in die album, “Tienerkwaad”, is ook pas saam met ʼn musiekvideo uitgereik.

Zaan vertel dat die album amper nie gerealiseer het nie, omdat hy ná sy ma se dood gereed was om musiek vaarwel te roep. Gelukkig het die span by Vonk Musiek sy passie vir musiek weer laat opvlam en kan hy nou sy ma se nagedagtenis met hierdie voltooide produk vereer.

“Ek dink omdat my ma baie betrokke was by die skryf van die album – sy was ook ’n skrywer by wie ek baie geleer het – en ek dit nooit vir haar sal kan wys nie, was dit amper nie meer vir my die moeite werd nie en het ek al my opnames van my rekenaar afgevee. Ek en Tertius moes dus alles van vooraf doen toe ons begin opneem het.”

Zaan Sonnekus. (Foto: Terse Photography)

Die veelsydige musikant het in Bloemfontein grootgeword en was nog altyd versot op musiek. Toe hy sy eerste kitaar op die ouderdom van tien kry, was daar vir hom geen twyfel oor wat hy met die res van sy lewe wou doen nie en daarom het hy ná skool musiekvervaardiging gaan studeer by COPA. Sy eerste enkelsnit is in 2017 uitgereik.

Buiten vir musiek is hy ook betrokke by ’n opname-ateljee genaamd Son Studios, asook Son Sound Productions, wat fokus op die verkoop en verhuring van klanktoerusting en beligting. Hy en sy beste vriend het ook ’n sakeonderneming, Inner Ink, wat op industriële vlak verharde glas vervaardig en keramiek-drukwerk doen.

“Die album is opgedra aan ’n sonneblom-liefhebber. Daar is nog baie liedjies in die bank, maar ek het gevoel dat wat ek gekies het die eerste deel van my storie vertel. My grootste prestasie is dat ek nooit opgegee het op my drome nie.”

Die amptelike albumbekendstelling vind op Dinsdag 26 Oktober in die AfriForum-teater in Pretoria plaas. Kaartjies vir die geleentheid is beskikbaar by Tixsa.

Wen: Vier gelukkige lesers het die kans om elkeen ʼn dubbelkaartjie na die albumbekendstelling te wen. Die geleentheid begin om 18:00 vir 18:30. Om in aanmerking te kom vir die kaartjies, vul die vorm in en beantwoord die vraag. Die kompetisie sluit Donderdag 21 Oktober om middernag.

Die kompetisie het gesluit.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.