Wen: Zita Pretorius oor ‘Zita Goes Classics’


Zita Pretorius (Foto: Maroela Media)

Zita Pretorius (Foto: Maroela Media)

Die Afrikaanse sangeres Zita Pretorius is op 14 Oktober in die Atterbury-teater in Pretoria te sien in die eerste van haar reeks vertonings genaamd Zita Goes Classics.

Zita sê dié konsert is ʼn idee waarmee sy al lank speel. “Ek is ongelooflik opgewonde oor die konsert, veral omdat ek al so lank met die idee in my kop rondloop. Dit het eindelik dié jaar gestalte gekry in die optrede wat nou in die Atterbury-teater plaasvind en ek dink mense gaan dit baie geniet,” het sy gesê.

Volgens haar verwys die “classics” in die titel nie na klassieke musiek nie. “Ek doen ʼn paar klassieke treffers, maar mense verwar die konsep vreeslik omdat ek uit ʼn klassieke agtergrond kom. Dis ʼn ongelooflike lekker luisterprogram vol goue oues en teater-gunstelinge. Ek gaan ook een van my nuwe snitte vir die eerste keer sing.”

Hoewel sy in dié konsert nie enige duette beplan nie, sluit sy dit nie vir die opvolgkonserte van dié reeks uit nie. “Meeste van die liedjies leen hulself nie tot duette is nie. Ek het wel vir David Cousins, die bekende jazz-pianis, saam met my op die verhoog en dit gaan vir hope pret sorg.”

Sy is ook bekend vir haar konserte met gróót kostuums en meen dié konsert is nie anders nie. “Ek dra ongelooflike mooi kostuums, ontwerp deur Johan Botha, in dié produksie.”

Aanhangers kan uitsien na gewilde Zita-liedjies en ook treffers soos “Don’t Cry for Me, Argentina” en dié uit Phantom of the Opera.

Dié reeks vertonings word volgende jaar voortgesit en sy beplan om groot feeste soos Aardklop en Innibos in haar program in te sluit.

Vir meer inligting oor dié konsert, besoek Zita se Facebook-blad of Twitter.

Koop jou kaartjies vir Zita Goes Classics by Computicket.

WEN: Twee lesers kan elk ʼn dubbelkaartjie vir Zita se konsert op 14 Oktober in die Atterbury-teater te wen. Om in te skryf, stuur jou naam, van, kontaknommer en adres, en jou antwoord op die volgende vraag na [email protected]. Vraag: Wat is die naam van Zita se konsert waarvan die eerste aanbieding op 14 Oktober plaasvind? Inskrywings sluit 13 Oktober om 17:00. Wenners word per e-pos in kennis gestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.