Wenner van negende Atterbury Nasionale Klavierkompetisie aangewys

Qden Blaauw, algehele wenner van die negende Atterbury Nasionale Klavierkompetisie (Foto: Mauritz van den Heever)

Die 15-jarige Qden Blaauw van Parow is die afgelope naweek as algehele wenner van die negende Atterbury Nasionale Klavierkompetisie aangewys.

Blaauw het onder meer die Joseph Stanford-toekenning vir beste uitvoering van ʼn barokstuk, die Stephen Allen-toekenning vir beste uitvoering van ʼn romantiese werk én die Tanya Tosen-toekenning vir die beste uitvoering van ʼn klassieke werk ontvang. Hy is ook aangewys as kategoriewenner vir die ouderdomsgroep 15 jaar en jonger.

Blaauw het in die finale ronde beïndruk met sy uitvoerings van Chopin se “Ballade nr. 3 in A mol” en Rachmaninoff se “Preludes op. 23 nrs. 6 & 7”.

Leo Huan het algeheel tweede geëindig in die negende Atterbury Nasionale Klavierkompetisie (Foto: Mauritz van den Heever)

Die 16-jarige Leo Huan van Silver Lakes, Pretoria, het die algehele tweede plek behaal, terwyl die 17-jarige Bellviller, Vitske van Zyl, in die derde plek geëindig het.

Huan het die Celeste van der Watt-toekenning vir beste uitvoering van ʼn Suid-Afrikaanse werk ontvang en is as die kategoriewenner vir die ouderdomsgroep 19 jaar en jonger aangewys. Hy het puik uitvoerings van Liszt se “Sonetto 123 del Petrarca” en Klatzow se “Impundulu” gelewer.

Van Zyl het vir haar finale uitvoering Debussy se “Jardins sous la pluie” en Liszt se “Funérailles” gekies.

In die kategorie vir 12 jaar en jonger het Heinrich Sutton van Waterkloofrif, Pretoria, met die louere weggestap. Hy het ook die Willie de Jager-toekenning vir beste uitvoering van ʼn moderne werk verower.

Vitske van Zyl het algeheel derde geëindig in die negende Atterbury Nasionale Klavierkompetisie (Foto: Mauritz van den Heever)

Die Atterbury Nasionale Klavierkompetisie is in 2011 deur Claudine van Breda en dr. Willie de Jager tot stand gebring om sodoende jong pianiste die geleentheid te bied om op nasionale vlak op ʼn gelyke platform teen mekaar mee te ding. Die kompetisie bestaan uit vier rondes. Alle kandidate het aan ronde een en twee deelgeneem waarna 18 semifinaliste gekies is om in die derde ronde mee te ding. Ná voltooiing van hierdie ronde is nege finaliste uit die drie kategorieë bekendgemaak.

Die kompetisie is die afgelope Vrydagaand met ʼn galageleentheid afgesluit. Deelnemers in dié ronde het elk ʼn koopbewys van Kawai, ter waarde van R750, asook R1 000 van die Gert Becker Familietrust ontvang.

Die algehele prysgeld ter sprake is R115 000, waarvan die kontantprys vir die algehele wenner minstens R35 000 beloop.

Die beoordelaars vanjaar is Marius du Plessis, prof. Hubert van der Spuy (beskermheer) en prof. Wessel van Wyk. Atterbury Trust is die hoofborg van die kompetisie, maar verskeie ander borge dra daartoe by dat die kompetisie suksesvol kan bly voortbestaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Stormrider ·

Dankie vir hierdie pragtige artikel Maroela. Ons is so ongelooflik trots op hierdie talentvolle leerders! Reik na die sterre!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.