Wenners van ‘Afrikaans in styl’-kaartjies aangewys

Stef Bos, Nataniël en Karen Zoid is die eerste keer saam op ‘n verhoog in ‘Afrikaans in styl’.

Afrikaans in styl, wat op 27 Augustus by Sun Arena in Pretoria en op 3 September by Grand Arena in Kaapstad plaasvind, is ʼn samekoms van Stef Bos, Nataniël en Karen Zoid se uiteenlopende musikale wêrelde.

Elkeen van hierdie kunstenaars het die geleentheid om hul eie program en styl na Afrikaans in styl te bring, wat beteken dat gehore eintlik ʼn konsert binne ʼn konsert kan verwag.

Onder die musikale leiding van Charl du Plessis word die kollig gedeel met Juan Oosthuizen (kitaar), Henry Steel (kitaar), Brendan Ross (klawers en stem), Werner Spies (bas), Rixi Roman (bas), Peter Auret (tromme), Marlon Green (tromme), ʼn strykorkes, sangers Nicolaas Swart en Dihan Slabbert, asook ʼn paar geheel en al onverwagse, onoortreflike stemme en gesigte.

Volgens Matthys Maree, wat met die konsep vorendag gekom het, sal mense wat lief is vir teateraanbiedings veral van hierdie produksie hou.

“Ons hoop om ʼn produksie op die planke te bring wat ʼn minimalistiese en akoestiese styl het en wat met minder effekte ʼn groter indruk op gehore maak.

“Mense moet ook besef dat dit nie ʼn langdradige en uitgerekte vertoning gaan wees nie, maar dit gaan ongetwyfeld die tyd en geld werd wees. Ons kan nie te veel verklap nie, maar gehore kan beslis uitsien na ʼn hele paar verrassings,” sê hy.

Vier Maroela Media-lesers het elkeen ʼn dubbelkaartjie vir die eerste Afrikaans in styl-produksie gewen. Baie geluk aan Renatha Kapp en Jessie Louw wat kaartjies gewen het om die konsert op 27 Augustus by Sun Arena in Pretoria te kyk. Hartlik geluk ook aan Marlene van Wyk en Katryn Conradie wat die konsert op 3 September by Grand Arena in Kaapstad gaan bywoon.

Kaartjies vir Afrikaans in styl kos tussen R450 en R690 per persoon en is op Seatme beskikbaar. Vir meer besonderhede besoek Afrikaans in styl se webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.