Wêreldkoorspele neem Pretoria op horings

(Foto: Facebook via. World Choir Games)

Die tiende Wêreldkoorspele vind vanjaar van 4 tot 14 Julie in Pretoria plaas.

Dié kompetisie word gesien as die Olimpiese Spele van koorsang, en dit is die eerste keer dat dié internasionale kompetisie in ʼn Afrika-land plaasvind.

Maroela Media het vroeër berig dat 33 500 sangers in 500 kore uit 70 verskillende lande byeen is vir dié kompetisie.

Die Africa Celebrates!-burgemeester-nalatenskapkonsert vind dié naweek plaas. Die burgemeester van Pretoria, Solly Msimanga, het almal genooi om dié gratis konsert by te woon.

“Kom luister hoe Afrika-kore byeenkom vir ʼn viering van die vasteland se koormusiek. Op dié manier sal ons pragtige verhoudings bou én donasies insamel vir die stad se kwesbaarste inwoners,” het die burgemeester op Facebook geskryf.

“Dit is gratis. Jou toegangsgeld is nie kontant nie, maar eerder ʼn nuwe paar skoene, ʼn toiletsakkie met toiletware in of ʼn nuwe kombers. Elke lid van ʼn familie of groep moet een van dié items saambring om toegang te kry. Al die items wat ingesamel word sal aan behoeftiges gegee word.”

(Foto: Facebook via. World Choir Games)

Tydens dié byeenkoms tree kore van Gaboen, Ghana, Kenia en Namibië op.

Indien jy dié konsert wil bywoon moet jy verkieslik voor 16:00 al by die Time Square Sun Arena wees met jou donasie. Al die donasies sal by die deur ingeneem word en die konsert begin om 17:00.

In die kategorie vir gemengde kore tree verskeie kore Vrydag om 19:00 op, en die kategorie vir “senic pop/show-kore kom Vrydag om 19:30 aan die beurt.

Die res van die naweek is volgepak met vertonings van onder meer die senior kore, vrouekore, mannekore en gemengde seunskore. Die dag word afgesluit met ʼn toekenningsgeleentheid.

Sondag sal nog ʼn toekenningsgeleentheid plaasvind vir kategorieë wat reeds deelgeneem het. Die finale toekenningsgeleentheid sal op Saterdag 14 Julie by die Sun Arena plaasvind.

Stellenbosch Universiteit se koor het verlede jaar dié kompetisie in Rusland gewen, maar kan hierdie jaar nie weer deelneem nie omdat dié koor se dirigent, André van der Merwe, voorsitter van die Wêreldkoorspele se artistieke komitee is. Die koor is wel genooi om as demonstrasiekoor op te tree.

Kaartjies vir koorvertonings is hier te koop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.