Wie is Karel Bester?

Karel Bester. (Foto: Verskaf)

Op die trant van ʼn folk-rock-wysie sing ʼn diep stem in Afrikaans oor ʼn “man bun bra” genaamd Zirk en sy vriend, Jan, “ʼn boer in murg en been, ʼn kakieman wat die plaas verlang”, wat mekaar op Stellenbosch in ʼn kroeg ontmoet en uiteindelik saam partytjie hou tot in die vroeë oggendure.

Dié diep stem behoort aan Karel Bester, ʼn nuweling-musikant van die Kaap, wat soos ʼn vars briesie oor die Afrikaanse musieklandskap waai met sy debuutenkelsnit “Sal jy saam my kom drink”.

Die 26-jarige voormalige LLB-student vertel aan Maroela Media hy het tydens die tweede laaste jaar van sy studie besef sy hart lê nie by die regte nie en dat hy eerder voltyds sy passie vir musiek wil uitleef.

Bester, wat as laerskoolkind sy eerste tromstel gekry het en daarna besluit het hy wil eerder kitaar speel, het intussen sy instrumentele repertoire ook uitgebrei na mandolien, banjo en baskitaar.

Sy lirieke is gewoonlik op ware gebeure geskoei en outentiekheid is vir hom uiters belangrik. “Ek is iemand wat daarvan hou om ander mense waar te neem wanneer ek uitgaan. Ek hou mense en hulle gedrag dop en voeg dan elemente daarvan in my lirieke.”

“Sal jy saam my kom drink” se musiekvideo is geskiet in Aandklas op Stellenbosch. Bester vertel hy het ʼn ruk lank as kroegman daar gewerk en die eienaars van die kroeg het hom ʼn guns bewys deur die perseel vir die verfilming van die video beskikbaar te stel.

“Ons het reeds baie vroeg in die oggend hierdie video geskiet, voor die kroeg se gewone oopmaaktyd. Die mense in die video het so lekker saamgespeel, al drink ons net tee en Coke – dit was darem nie regte dop so vroeg in die oggend nie,” lag hy.

Karel Bester. (Foto: Verskaf)

Hy vertel die liedjie is vervaardig in Dirk van Niekerk van Select Musiek se nuwe ateljee in Vishoek. Van Niekerk was besig om van ateljee te verskuif en Bester glo die gevoel van die ateljee het bygedra tot die organiese klank van die liedjie.

“Dit was net ek met ʼn mikrofoon en my kitaar. Ek is mal oor daardie estetiese element in musiek – wanneer alles nie superskerp afgerond is nie en mense net klink soos mense,” verduidelik hy.

Hy en sy vriend, die musikant Synth Peter, het verlede jaar saam met Katinka, What the Faf en Loufi ʼn liedjie getiteld “Doef doef” uitgereik. Die musiekvideo vir dié liedjie het al byna 3 miljoen trefslae op YouTube.

“Ek en Peter het tydens die inperking vir so twee weke saam gewoon en musiek geskryf. ‘Doef doef’ het in daardie tyd die lig gesien.”

Bester se alias, Wortel Kombat, sinspeel op die fliek Mortal Combat en die feit dat sy hare “effe gemmerig” is, vertel hy.

“Toe een van my vriende my dit eendag grappenderwys toesnou, het ek gedink dis skreeusnaaks. Ek het ʼn alias nodig gehad toe ons ‘Doef doef’ wou uitreik en Wortel Kombat het my bygebly.”

Hoewel hy homself as ʼn partytjiedier sou beskryf, is hy ook ʼn passievolle mens wat maklik obsessief raak oor ʼn interessante onderwerp en verdiep kan raak in elke komponent van musiek.

“Ek het twee jaar lank elke dag tyd gemaak om met my oorfone op my kop albums deur honderde verskillende kunstenaars van voor tot agter deur te luister. Ek het maklik meer as duisend albums deurgeluister. Ek bestee soveel moontlik tyd daaraan om my vaardigheid in die kuns van musiek te verskerp en is heeltemal gefokus op egtheid en opregtheid.”

“Sal jy saam my kom drink” is beskikbaar op alle groot digitale platforms.

Kyk hier na die musiekvideo vir “Sal jy saam my kom drink”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.