‘Wikkelvingers’ – Die Ventertjies

Foto: facebook.com

Foto: facebook.com

Dit gebeur nie aldag dat tieners tot die musiekbedryf toetree en byna dadelik groot sukses behaal nie, onder meer as gevolg van die eise wat die bedryf aan kunstenaars stel.

Die Ventertjies is twee sussies wat op hoërskool is en hul eerste album, Vlindervingers, verlede jaar uitgereik het.  Hierdie album was dadelik gewild en nou het hulle dit opgevolg met hul nuwe album, Wikkelvingers.

Uit die eerste snit in die album, Ricardo Bornman se komposisie “Sondebok”, blyk dit dat hulle ware musiektalent het. Nicola, die ouer sussie, speel melodiekitaar terwyl Lindie-Lee baskitaar speel. Die enigste ander musikante wat in die album gehoor kan word, is Rudi Jooste en Josh Oosthuizen, wat onderskeidelik ritmiese baskitaar en akoestiese kitaar speel.

Die titelsnit is ’n komposisie van nog ’n bekende kitaarspeler, Terra Terblanche. Die eerste enkelsnit in die album is “Oom Hans se gemmerdans” wat deur Manie Bodenstein gekomponeer is en waarvan daar al ’n musiekvideo vervaardig is. Gewoonlik verwag ’n mens ’n konsertina in hierdie snit, maar Die Ventertjies se weergawe is uitstekend.

Een van die eerste werklik humoristiese liedjies in Afrikaans was “Petronella” wat deur Cissie en Willie Cooper gekomponeer is en ’n treffer vir Chris Blignaut was. “Koe-koe-wals” is nog ’n bekende komposisie wat hoofsaaklik deur Boereorkeste gespeel word. “Blink Stefaans” is nog ’n Terra Terblanche-komposisie en dalk een van die beste snitte op die album.

“Umfaan” is seker een van Ricardo Bornman se bekendste komposisies en is al deur verskeie kitaarspelers opgeneem.

Een van die legendes van Afrikaanse musiek, Nico Carstens, vier vanjaar sy 90ste verjaardag, en dit is gepas dat een van sy komposisies, naamlik “Jampotpolka” ingesluit is. Dit klink net so goed op ’n kitaar as ’n trekklavier, indien nie beter nie.

Nicola het die volgende snit, “Somerswals”, gekomponeer en ’n mens hoop dat sy in die toekoms meer gereeld só sal maak. Sollie Marx se “Bokspring-kwêla” is beslis een van die lekkerste snitte in die album. “Sout en peper” is ’n tradisionele komposisie wat al verskeie kere opgeneem is. Boetie Kallis was ’n legende in Boeremusiek en sy bekende “Platboompolka” is ook ingesluit. Weer eens klink dit baie goed op kitaar, selfs al is ’n mens aan ʼn konsertina-weergawe gewoond. Daar is net een internasionale snit ingesluit, naamlik die baie bekende “Red River Valley”.

Die Ventertjies kom uit ’n musikale gesin en dit is duidelik dat hulle musiektalent het. Dit gebeur te gereeld dat kitaarmusiek bederf word deur bykomende instrumente, maar die klank wat hulle (weliswaar met ’n bietjie hulp) voortbring, is ongelooflik. Hulle het ’n blink toekoms en sal hopelik gewild word, nie net onder liefhebbers van kitaarmusiek nie, maar ook onder dié wat goeie musiek kan waardeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.