Wil jy in Die Heuwels Fantasties se musiekvideo wees?

Die Heuwels Fantasties. (Foto: Verskaf)

Die Heuwels Fantasties nooi hul aanhangers om in die musiekvideo vir hul jongste enkelsnit, “Ons moet leef”, te verskyn.

Dié snit word later vandeesmaand saam met die musiekvideo én ʼn splinternuwe vollengte album getiteld 2021 uitgereik. Die sanger en liedjieskrywer Ampie is ook in dié snit te hoor.

“Die koronavirus het ons oorspronklike planne vir die video en uitreiking van die album in die wiele gery, maar ons sien uit daarna om binnekort die album en die nuwe liedjies te deel,” sê Hunter Kennedy, liedjieskrywer en sanger van die groep.

“Ons het vir ‘Ons moet leef’ aanvanklik gedink ons moet nou maar onsself afneem terwyl ons lawwe goed doen. Ons het toe onthou almal anders is ook verveeld, so hoekom speel ons dan nie maar almal saam nie? Ons is nuuskierig om te weet wat ander mense doen.”

Aanhangers wat in die musiekvideo gesig wil wys, kan video-brokkies aanstuur na die vervaardigers van die video om ʼn kans te staan om gesig te wys in die video.

“Die liedjie doen ʼn beroep op mense om net hul lewens voluit te leef. Daar is nog baie wat voorlê,” voeg Kennedy by.

Die lirieke vir die liedjie is op die groep se Facebook-blad beskikbaar. Video’s moet die groep teen Sondag 12 April bereik. Stuur jou video per e-pos na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae