Willem Botha vandag dankbaar vir sy ‘Idols’-reis

Willem Botha is vandag baie meer as net ‘n voormalige “Idols”-deelnemer. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Wie sou kon dink dat ʼn seun van ʼn klein plattelandse landbouskool in die Wes-Kaap eendag sou straal op die silwerskerm, skares op plaaslike en internasionale verhoë vermaak en boonop bekendes met sy eie kameralens vasvang?

“Beslis nie ek nie!” skerts die sanger, TV-aanbieder, akteur en voormalige naaswenner van kykNET se Afrikaanse Idols, Willem Botha.

Met sy engelstem, bekende bry en borrelende persoonlikheid is dit nie moeilik om te verstaan waarom Botha 16 jaar terug diep in Suid-Afrikaners se harte gekruip het toe hy aan dié bekende talentsoekkompetisie deelgeneem het nie.

Die joernalis en skrywer Deon Maas, sanger Mynie Grové en musieklegende Taliep Pietersen het in 2006 as beoordelaars in die Afrikaanse weergawe van die bekende televisiereeks opgetree. Dewald Louw het as die wenner van dié reeks weggestap. Die reeks se plaaslike Engelse weergawe het toe reeds drie wenners gelewer, naamlik Heinz Winckler (2002), Anke Pietrangeli (2003) en Karin Kortje (2005).

Botha in sy laerskooldae. (Foto: verskaf)

Maar ʼn professionele sangloopbaan was egter nie deel van dié plattelandse Springbok-perdryer, wat in Riversdal in die Wes-Kaap grootgeword het, se planne nie.

“Ek is ongelooflik lief vir my tuisdorp, maar ʼn sangloopbaan voel nie soos ʼn moontlikheid in só ʼn klein plek nie. Jy sal by die kerk of eisteddfod sing, maar dis dít. Ek wou eintlik ʼn veearts of wildbewaarder geword het, so dis ongelooflik om te dink hoe anders dinge vir my uitgewerk het.”

Botha (34) het sedert sy skooldae ʼn passie vir musiek gehad en het naam vir homself én sy skool gemaak toe hy destyds die Burger Plus-ster-kompetisie gewen het. Hoewel hy in sy eie woorde “ʼn poster-child” vir afknouery was, is hy nooit op skool geboelie nie. “My skool het ʼn fantastiese beleid gehad; as jy in die eerste rugbyspan speel, moet jy ook in die koor sing. Só is koorkinders nie afgeknou nie.”

Hoewel hy verslaaf aan Idols was, was sy besluit om destyds self deel te neem effens impulsief en hy het aanvanklik vir niemand vertel dat hy vir die oudisie gaan nie.

Danksy die sukses van die Plus-ster-kompetisie het hy die jaar ná matriek saam met Nicholis Louw in Gqeberha (toe Port Elizabeth, kortweg PE) getoer. “My pa het my gebel en gesê daar’s oudisies vir Idols in PE en ek sê toe vir my pel wat saamgetoer het dat ons die volgende oggend vyfuur sal moet opstaan, want ek gaan vir Idols inskryf.”

Die res is geskiedenis.

Botha het Spingbok-kleure in perdry. (Foto: verskaf)

Hy kan nog sy oudisielied, “30 dae in die somer” van Chereé, goed onthou en sê dat Idols-beoordelaar Deon Maas hom destyds met sy oudisie oor sy skoene geterg het. “Ek het hierdie Converse-tipe tekkies aangehad wat sonder veters gekom het. Deon vra my toe: ‘Moes jy jou veters verkoop om só ʼn stem te bekostig?’”

Hoewel hy en Maas eers ná Idols bevriend geword het, was hy van die begin af een van Grové se gunstelinge en die twee het tot vandag toe nog kontak. Hy vertel ook dat hy altyd die legende Taliep Pietersen se reaksie op sy weergawe van Laurika Rauch se “Blou” sal koester.

“Ons moes daardie week self ʼn lied kies en ek onthou Taliep het agterna vir my gesê as dít die tipe musiek is wat ek op 19 kies, wil hy nie weet wat ek eendag nog alles sal bemagtig nie. Dit was vir my só spesiaal, ek sal dit nooit vergeet nie.”

Die Idols-ervaring is volgens Botha ʼn warboel waarvoor niemand jou kan voorberei nie.

Op 19 het hy diep in Suid-Afrikaners se harte gekruip as deelnemer op Idols. (Foto: verskaf)

“Maandae tot Vrydae was propvol glansgeleenthede, onderhoude en besoeke. Jy het dalk elke derde dag ʼn sangles gehad en oefen skaars twee dae aan jou optrede, so die pas was ongelooflik vinnig. Ek het meer as een keer my ma in trane gebel en gesê ek wil huis toe kom,” sê hy laggend.

Anders as die deelnemers aan die Engelse reeks wat by die Gold Reef City-hotel gebly het, het die Afrikaanse deelnemers saam in een groot huis gewoon en dus hegte bande gesmee. Hoewel hy nie meer kontak met voormalige deelnemers het nie, is dit vir hom lekker as hy wel iemand van sy Idols-dae raakloop. “Dis al mense wat presies verstaan waardeur jy gegaan het. Jy sal altyd met hulle daardie spesiale band hê.”

Hoewel Idols ʼn goeie wegspringblok vir aspirantsangers is, begin die harde werk volgens Botha eers die jaar nadat jou seisoen geëindig het.

“Feeste en venues wil elke jaar die heel nuwe Idols-wenner bespreek en ander kunstenaars in die bedryf wil weens dié handelsmerk niks met jou te doen hê nie, so daardie titel is net vir ʼn jaar geldig. Jy moet hard werk om jou eie stem en identiteit daarna te vestig.”

Botha het al skares op plaaslike en internasionale verhoë vermaak. (Foto: verskaf)

Met onder meer vyf albums, drie rolprente, verskeie verhoogproduksies en talle musiektoere agter sy naam, is daar geen twyfel dat hy nie net sy eie identiteit as vermaaklikheidster die afgelope 16 jaar gevestig het nie, maar ook uitgebrei het.

Sy liedjies het ook al vir sukses op internasionale verhoë oor die hele Europa gesorg en hy het selfs in 2013 as agtergrondsanger en -danser vir die Belarus-span by die Eurovision-sangkompetisie opgetree. Talle liedjies van dié gewilde sangkompetisie – wat bekendes soos ABBA en Céline Dion se loopbane afgeskop het – word sedert die 70’s deur Afrikaanse kunstenaars vertaal en Europese gehore is gaande oor dié vertalings.

Benewens sy musiek is hy ook op die kassie te sien as een van Kwêla se mede-aanbieders en die afgelope vier jaar het hy veral naam as fotograaf begin maak nadat hy pragfoto’s van die sangeres Leah vir die tydskrif Vrouekeur geneem het.

Vandag het hy al talle bekendes, onder andere Donnalee Roberts, Jay, Juanita du Plessis en die voormalige Mej. SA en Mej. Heelal, Zozibini Tunzi, voor sy lens vir groot name soos rooi rose en Spar gehad.

Botha het onlangs met die donkerkop skoonheid Franja du Plessis getoer. (Foto: verskaf)

Sy naam gaan binnekort ook fisiek op talle vroue se lippe (en gesigte) wees wanneer sy volgende passieprojek, Willem Botha Beauty, bekendgestel word.

“Leah het my destyds voor haar eerste fotosessie genader en gesê dat sy nie ʼn grimeerkunstenaar kan bekostig nie. Ek sê toe sy moet al haar produkte saambring, spring op YouTube en kyk na al wat ʼn ‘tutorial’ is en besluit ek gaan self haar grimering doen.”

Sy droom is om eendag sy liefde vir fotografie en grimeerkuns in ʼn televisiereeks te kombineer.

Glo hy dat daar egter steeds ʼn plek vir kompetisies soos Idols is?

“Beslis! Ek sal eintlik mal daaroor wees om op ʼn Afrikaanse weergawe van The Voice te wees, want ek voel ek sal as voormalige werklikheidsprogram-deelnemer ʼn goeie mentor kan wees.”

Hy skerts dat hy egter destyds vir sy bestuurder gesê het hy sien uit na die dag wat dit nie meer nodig is om die woorde “Idols-naaswenner langs sy naam in hakies op feesprogramme of in die media te hê nie.

Hoewel daardie droom bewaarheid is en sy naam lankal nie meer sinoniem met dié gewilde sangkompetisie is nie, is hy vandag egter nie een oomblik skaam of spyt dat sy loopbaan op die Idols-verhoog begin het nie.

Inteendeel, dit is vir hom ʼn riem onder die hart as lede van die publiek hom van daardie dae af herken.

“Dit beteken dat hulle al die afgelope 16 jaar saam met my op hierdie ongelooflike reis is en my loopbaan ondersteun. Waarvoor kan ʼn mens tog meer wil vra?”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Johan ·

Geluk met ‘n uitstaande berig oor die befaamde Riversdalboorling. Vergun my net ‘n paar regstellings. Die “klein landbouskool” is die Gróót Oakdale Hoër Landbouskool en tel onder die topskole in Suid-Afrika. Wat Rugby betref, het die Bulle al met baie van die grotes in alle provinsies afgereken . Provinsiaal en inter-nasionaal word met Oakdale se kalwers geploeg. Op die gebied van Toutrek het hulle inter-nasionaal presteer. Akademies en op kuturele gebied staan hulle hulle man met onderskeiding. Die skool bedryf ook ‘n spogboerdery met suiwel, graan en vrugte die vernaamste vertakkings. Die “klein plek” is groot spogdorp en van die mooistes in die Suid-Kaap. Drie hoërskole, verskeie laerskole en kleuterskole bied hoogstaande onderwysgehalte. Vir alle geloofsoortuigings is daar kerkgeboue waar aanbid word. Die museum en kunsgalery is van die grootstes in hierdie wêreld. Die munisipaliteit kry net skoon ouditverslae en die boere kán boere. Van hulle dien in nasionale komitees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.