
Vanuit Willie Strauss se sinkhuis in Cullinan kook, sing, bak en brou hy graag dat jy net bakpoeier sien trek. (Foto: Theana Breugem/Verskaf)
“Ek staan nie net heeldag kaalvoet in die kombuis en kook nie, ek sing ook nog.”
Só skerts Willie Strauss heerlik oor sy komende toer in die Wes-Kaap waar hy gaan kosmaak, sing en stories op die verhoog vertel.
Willie is deesdae waarskynlik die bekendste vir sy kospraatjies op verskillende radiostasies. Hy kuier elke tweede Maandag eers saam met Amore Bekker en nou Eliose Cupido, maar het voor dit elke Saterdag vir ses jaar lank op Pretoria FM nuwe resepte bespreek. Hy maak ook gereeld ʼn draai op gemeenskapradiostasies soos Radio Laeveld en Radio Overberg.
“Ek is een van daardie mal mense wat myself kan honger praat, tot op die punt waar my mond behoorlik water oor die resep waaroor ek nou gesels.
“Om kos te maak is vir my soos om ʼn brief te lees van iemand waarvan jy lanklaas gehoor het. Die opwinding van die wit Croxley-koeverte in jou hand is daardie resep wat jy eenvoudig moet toets; die lees van die brief met die lyntjiespapier is soos voorbereiding van jou kos.
Hy sê hy was maar nog altyd lief vir kosmaak. Daardie liefde kom waarskynlik van sy kleintyd af waar hy as seuntjie in die kombuis op die plaas, Vyfbeker, in die Kenhardt-distrik in die Noord-Kaap saam met sy ma koekies gebak of kosgemaak het.

Willie verkoop koslike voorskote en slaapbroeke met prettige Afrikaanse gesegdes op. (Foto verskaf)
“Dit is mos maar deel van ʼn mens se lewe, maar as ek nie die dag lekker voel nie, moet ek maar eerder heeltemal uit die kombuis bly,” bieg hy.
Tog is Willie nie net die ou wat resepte verniet weggee of kookgeheime vrygewig uitdeel nie, hy is ook ʼn ware kunstenaar in murg en been. Hy het destyds uitvoerende kuns aan die Technikon Pretoria (nou Tshwane Universiteit van Tegnologie) behaal. Daar is sewe albums agter sy naam en hy het die land vol getoer met produksies soos Die duiwel dra crocs en Daar is ʼn engel in my koskas. Hy was die aanbieder van sy eie kookprogram en ʼn gas op TV-programme soos Boerediva, Bravo! en Kwêla.
“Ek is egter op my heel gelukkigste op die verhoog waar ek kan sing, stories vertel en kan kook.”
Willie se jongste produksie, Kos, sing en stories, is ʼn samevatting van wie en wat Willie Strauss is. Hy is kos, hy is musiek, maar hy is ook beslis vol stories. As jy die woorde sanger, koskenner, liedjieskrywer, sinkstoor en langtafels bymekaar klits, dan is die antwoord Willie Strauss.
“Dit is ʼn heerlike interaktiewe vertoning waar ek jou gaan leer om ʼn fondant roos te maak. Jy gaan met ʼn handvol praktiese koswenke wegstap, en ek gee jou ook ʼn resep terwyl ek stories vertel – ek gaan jou laat lag en wegstuur met ʼn traan in die oog.
“Henry-Jon Williams begelei my op die klavier en het ʼn paar oorspronklike liedjies en selfs ʼn storie vir die produksie geskryf.”
Willie is ook ʼn entrepreneur soos dit enige goeie kunstenaar deesdae betaam. Sy sinkstoor is sy eie deftige negosiewinkel waar hy alles verkoop wat eetbaar en drabaar is. Hy verkoop koslike sepies wat soos skapies lyk, en daar is voorskote en slaapbroeke met prettige Afrikaanse gesegdes op.
Van sy luisteraars kom eet ook graag by Willie se eie opwip-restaurant. “Dit is ongelooflik om te dink hierdie mense ry al die pad na Cullinan in Gauteng toe om by my te kom eet. Dan bring hulle ook gewoonlik vir my ou porselein of antieke eetware. Ek dink dit is wonderlik dat mense my met hulle Ouma se kosbaarhede vertrou.

Henry-Jon Williams begelei Willie op klavier. (Foto: Theana Breugem/Verskaf)
“Mense het my ook al so baie op Facebook gevra wanneer ek by hulle in die Kaap kom kuier … Nou gaan maak ons ʼn wye draai daar en kuier van die Karoo tot in die Wes-Kaap.”
Willie se optredes is by:
- Gryspaleis in Richmond op 9 September.
- Die VLV in De Aar op 12 September.
- Die Boer in Durbanville op 14 September.
- Die Hutspot in Parow op 15 September.
- Die NG-kerk Lambertsbaai op 16 September.
- Ons-restaurant op die Simonsvlei-landgoed by Klapmuts op 17 September.
Skakel Henry-Jon by 082 775 8110 met navrae oor enige van hierdie vertonings.
Willie hou ook ʼn huiskonsert in Doringkloof, Centurion, met Kos, sing en stories op Saterdag 7 Oktober om 14:00. Daar is slegs 60 sitplekke beskikbaar en besprekings kan by Mariandl by 082 338 4819 gemaak word. Volg Willie Strauss op Instagram of Facebook.