Foto’s: Wit rose deel van modes by Grammy-toekennings

Kesha (middel) sing “Praying”. Bebe Rexha, Cyndi Lauper, Camila Cabello, Andra Day en Julia Michaels het op die verhoog by haar aangesluit. (Foto: Matt Sayles/Invision/AP)

Die uitblinkers in die internasionale musiekbedryf het Sondagaand in New York byeengekom vir die 60ste jaarlikse aflewering van die Grammy-toekennings.

Die sterre, wat in ontwerpersklere op die glanstapyt gepronk het, het spierwit rose by hulle gedra in solidariteit met die Time’s Up-veldtog wat onlangs deur die vroue van Hollywood van stapel gestuur is.

Die Amerikaanse popsangeres Lady Gaga, wat vir twee Grammys benoem is, het die voortou geneem in ʼn swart katpak van kant saam met ʼn vol romp deur Armani Privé.

Miley Cyrus, wat bekend is vir haar omstrede uitrustings en gedrag op die glanstapyt, het elegant gelyk in ʼn swart Jean Paul Gaultier-broekpak. Sy het saam met Elton John die treffer “Tiny Dancer” gesing in ʼn wynrooi skepping. John het ʼn blink, veelkleurige baadjie deur Gucci gedra.

Reba McEntire (Foto: Evan Agostini/Invision/AP)

Die popsangeres Lana del Rey se stertema-uitrusting deur Gucci het ook die koppe laat draai terwyl Chrissy Teigen, vrou van die sanger John Legend, haar swanger magie in ʼn blink silwer aandrok deur Yanina Couture afgewys het.

Reba McEntire, wat ʼn Grammy gewen het vir haar gospelalbum, het ook haar steun aan die Time’s Up-beweging met ʼn wit roos aan haar swart-en-silwer uitrusting ten toon gestel.

“My boodskap is vir almal om mekaar te behandel soos ons behandel wil word. Dit is die goue reël,” het sy gesê.

Die bekende liedjieskrywer Diane Warren het voorspel dat die “afrekening uiteindelik die musiekbedryf sal binnekom”. “Dit sal. Een honderd persent. Dit is die ergste,” het sy gesê.

Warren het nie ʼn wit roos nie, maar eerder twee wit handskoene gedra – een met die woord “girl” en die ander met die woord “power” op.

“Ek wou nie ʼn roos dra nie,” het sy gesê. “Ek is ʼn rebel.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.