Woon dié musiekuitvoerings eersdaags by

Vox Chamber Choir is die koor wat begin is deur Franco Prinsloo, pasaangestelde koordirigent van Akademia. (Foto: Vox Chamber Choir/Facebook)

Van Sondag (26 Junie) af is daar ʼn keur van klassieke klanke wat op musiekliefhebbers wag met konsert deur Vox Chamber Choir, Unison Voices en Moment Beleggings Aardklop Aubade, asook ʼn spesiale verjaarsdagkonsert vir Mimi Coertse.

Vox Chamber Choir maak Kaapse draai

Kaapse gehore kan solank regskuif want die Vox Chamber Choir, onder leiding van Franco Prinsloo, toer van 26 Junie tot 2 Julie in die Kaapstad-omgewing.

Die koor is op Vrydag 1 Julie om 18:30 by East City Wine in Kaapstad met hulle Vox Bar Choir-aanbieding. Vox Chamber Choir hou gereeld informele saamsing-geleenthede en hierdie keer kan Kaapse gehore ook kom deelneem.

Hoe werk dit? Lede van die publiek ontvang elkeen by die deur ʼn stukkie bladmusiek waarna daar lekker saamgekuier en saamgesing word.

Prinsloo verduidelik dat hy die musiek vir die verskillende groepe deur die loop van die aand aanleer en die resultaat is ʼn vierstemmige koor wat in ʼn kroeg saamsing. “Dit gee my altyd hoendervleis om mense so te sien saamkom en saam te sing. Hulle het altyd soveel hoop en is boonop uiters passievol.”

Die kaartjies kos R80 en is by Tixsa beskikbaar.

Op 2 Julie is die koor in Durbanville saam met Vivox Voices op die verhoog te sien. Die konsert word in die NG Moedergemeente Durbanville aangebied en volgens Prinsloo beloof dit om ʼn luisterryke ervaring aan gehore te bied.

Kaartjies kos R120 (aanlyn) en R150 (by die deur), en dit is by Tixsa beskikbaar.

Kaartjies vir Saterdag 26 Junie se optrede saam met Voces Cordis in die Hugo Lambrechts-ouditorium in Parow is reeds uitverkoop. Voces Cordis is ʼn kamerkoor wat deur die bekende dirigent André van der Merwe begin is.

Unison Voices bied Karl Jenkins-program aan

Op 26 Junie en 2 en 3 Julie is Unison Voices by Nazareth House in Pretoria te sien in ʼn uitvoering van Karl Jenkins se “Miserere: Songs of Mercy and Redemption”. Hierdie koor- en orkeskomposisie is onlangs as deel van Karl Jenkins se 75ste verjaardagvieringe gekomponeer.

Unison Voices, ʼn kamerkoor wat uit 40 lede bestaan, is ʼn projekkoor. Dit beteken dat die koor vir vier tot vyf maande aan ʼn program met ʼn spesifieke tema repeteer en dan die stukke uitvoer om die projek te voltooi.

Hierdie Unison Voices-projek het in Maart begin en eindig in Julie met die manjifieke uitvoering van Karl Jenkins se “Miserere: Songs of Mercy and Redemption” wat deur ʼn klein orkesensemble begelei sal word.

Kaartjies kos R120 (aanlyn) en R150 (by die deur), en dit is by Tixsa beskikbaar.

Verjaarsdagkonsert vir Mimi

Op 3 Julie hou oudlede van die Black Tie Ensemble, ʼn operageselskap wat deur Mimi Coertse en Neels Hansen begin is, ʼn spesiale verjaarsdagkonsert vir Coertse.

Coertse, ʼn wêreldbekende operasanger, en Hansen, ʼn gevierde operaregisseur en kostuumontwerper, het ʼn paar jaar gelede die Black Tie Ensemble begin met die doel om jong Suid-Afrikaanse sangers te help om hulle talente ten toon te stel.

Alumni van dié musiekgeselskap, onder wie Linda Zitha, Veramarie Meyer, Loveline Madumo, Vuyani Mlinde, Bongiwe Madlala en Goitsemang Lehobye, gaan die gehoor betower en gehore kan uitsien na treffers soos “Heimwee”, “O, Boereplaas”, “O Mio Babbino” en “Nessun Dorma”.

Die konsert vind by die AfriForum Teater in Pretoria plaas en dit word deur Loveline Arts Foundation aangebied. Kaartjies kos R200 en dit is aanlyn te koop op AfriForum Teater se webwerf.

Tjellis Gerrit Koorsen, ʼn senior lektor in Biochemie aan die Universiteit van Johannesburg. (Foto: Verskaf)

Tjello- en klavieruitvoering in Pretoria

Momentum Beleggings Aardklop Aubade bied op Sondag 7 Augustus ʼn tjello- en klavieruitvoering aan by die Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria.

Die program bestaan uit kamermusiekverwerkings deur drie komponiste uit die Romantiese tydperk.

Tjellis Gerrit Koorsen, ʼn senior lektor in Biochemie aan die Universiteit van Johannesburg, en pianis Eugene Joubert, hoof van klavierstudies by St. Mary’s Waverley, het gehore landwyd reeds met hierdie program meegevoer. Nou kan Pretoriase gehore ook regsit vir ʼn onvergeetlike ervaring.

In die voorvertoning speel Rohan Grobbelaar, ʼn Affies-matrikulant, saksofoon, terwyl hy deur Charl du Plessis op die klavier begelei word.

Kaartjies vir die vertoning kos R190 en R150 en kan by Ticketpro bespreek word. Stuur ʼn e-pos na [email protected] vir meer inligting oor die Aardklop Aubade-konsertreeks.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.