Wouter van de Venter ná 16 jaar terug met nuwe ‘love song’-album


Wouter van de Venter (Foto: Facebook)

Wouter van de Venter (Foto: Facebook)

ʼn Volle 16 jaar – die tydperk wat tussen die sanger en liedjieskrywer Wouter van de Venter se laaste en jongste album staan – is ʼn láng tyd. Maar wanneer dit byna twee dekades neem vir ʼn sanger om nuwe musiek vry te stel, kan jy vir seker weet: Daar is iets aan’t kom wat aan die hartsnare gaan pluk.

Musiek is immers soos goeie wyn – hoe langer hy staan, hoe beter raak hy.

Die sanger het egter nie van die musiektoneel verdwyn nie. Hy het die afgelope 16 jaar vir  baie ander kunstenaars liedjies geskryf en het talle albums vervaardig en die lig laat sien.

Een van dié projekte was onder meer om die sangpaar Wynand en Chereé Strydom se ateljee te gaan bestuur. Vir dié projek het hy sak en pak opgepak en Langebaan toe getrek.

Nou het Wouter sy jongste album, Toe roep jy my, vrygestel, en vertel dié album is nog steeds nes aanhangers hom ken.

“Die hele ding is vir my een groot love song. Ek dink daar gebeur soveel negatiewe goed waarmee ons konstant gekonfronteer word. Ek wou iets daarbuite sit wat feel good is en wat mense net laat lekker voel. Ek dink dis presies wat die album doen.”

Dit was egter ʼn besige 16 jaar vir die sanger gewees, en buiten dat hy vir Laurika Rauch gespeel het en deel was van Ses Snare, neem die bestuur van die Strydom-sangers se ateljee die afgelope ruk sy tyd in beslag. “Die skuif was vir myself, maar ook vir my jong seun. Ek het gevoel dis die regte ding om te doen, en daar het ek weer begin skryf,” het hy gesê.

Dié wat weet oor musiek, sê hy sing deesdae “organiese akoestiek” – organies met verwysing na regte instrumentele klanke. “Mense sê baie vir my dat my musiek nie in ʼn boksie gesit kan word nie, maar dis nie iets wat ek oor myself sê nie. Ek doen wat ek doen, nie omdat ek noodwendig spesifiek daaroor dink nie, maar omdat dit so gebeur.”

Toe roep jy my bevat ballades, country, blues en reggae. Hy het ook twee bekende liedjies, “Kom ʼn bietjie binne” en “Ou liefde roes nie”, opgeneem. Daar is nege oorspronklike snitte op die album.

Só sê Wouter oor die snitte op die album:

  • “Kom bietjie binne” en “Ou liefde roes nie” is ou songs wat deur ander sangers opgeneem is en ek wou hulle nog altyd self opneem.
  • “Sit die ligte af” is my ode aan Eskom.
  • “Toe roep jy my” is my en my vrou, Anita, se liefdesverhaal. Ek het twee keer op haar verlief geraak sonder dat ek geweet het sy is dieselfde persoon! Sy was blond toe ek haar die eerste keer ontmoet het en vier jaar later het sy swart hare gehad.
  • “Saartjie” is so ’n hartseer liedjie dat dit eintlik snaaks is! Dit gaan oor as alles so verkeerd kan loop dat jy eintlik net kan lag oor jou penarie.
  • “Ses Snare” is my love song vir my land en my mense.
  • “Klaradyn” is my skoonpa se bynaam vir Anita. Die blues het maar altyd ’n sagte plek in my hart.
  • “As jy lag” en “Hiepies” is sommer net lekker fun
  • “Die ander ou”: Ek is nog altyd lief vir reggae . Ek dink persoonlik as Romeo ’n boerseun was, sou hy en Juliet ’n meer suksesvolle verhouding gehad het .

Die album is op iTunes beskikbaar.

Vir meer inligting, besoek Wouter se Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

swanna ·

Watse “love song”is dit. Liefdes lied klink baie beter.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.