Wouter van de Venter sing vir ‘sy bok’

Wouter van de Venter. (Foto: WIan van der Walt)

Soos die meeste van die liedjies wat deur die jare uit sy pen gevloei het, is Wouter van de Venter se nuutste enkelsnit, “My Bok”, deur sy vrou geïnspireer.

“Sy is maar my muse. Dit gaan oor al die jare wat ons al saam is, oor al die vreesaanjaende goed wat ons ervaar het en waar ons weer heel aan die anderkant uitgekom het,” het Van de Venter aan Maroela Media vertel.

Van de Venter verduidelik verder dat die liedjie verhoudings vier en dat dit ’n huppel in diegene wat daarna luister se stap sal sit.

“Hopelik speel hulle dit hard by ’n braai; dis ’n lekker partytjieliedjie.”

Die inperking wat in Maart 2020 getref het, het ’n groot impak op Van de Venter se lewe gehad.

“Maart 2020 was ’n moeilike tyd wat ons lewens vir altyd kom verander het. As ’n musikant kon ek nie werk nie en die uitgawes het nie minder geraak nie. Ek het eerlikwaar nie meer geweet watse kant toe nie. Maar ek was nie alleen nie,” vertel Van de Venter.

“Ek het na ou kollegas en vriende, onder andere Nianell, uitgereik en so is ‘Ek Val’ gebore. Die doel daarvan was om vir luisteraars hoop te gee in moeilike tye.”

(Foto: verskaf)

Die oomblik wat Van de Venter terug kan sit en ontspan nadat hy ’n liedjie aanmekaar gesit het, is vir hom een van blydskap en verligting.

“Dis so ʼn lang proses, van waar jy hom skryf, tot waar jy dit in die ateljee opneem tot die musiekvideo. Elke nuwe liedjie is ’n hoogtepunt.”

Alhoewel hy as kunstenaar die land plat toer, is die Weskus Van de Venter se gemaksone en die plek waar hy tuis voel.

“Ek sê altyd vir my vrou dat ons dalk nie kan emigreer nie, maar ten minste kan ons ‘semigreer’,” vertel hy skertsend oor die trektog wat hy ’n paar jaar gelede saam met sy ander helfte van Gauteng na die Weskus aangepak het.

“Ek speel vreeslik baie hier op die Weskus. Van Velddrif, St. Helenabaai, Saldanha tot Langebaan. Weskusmense is sout-van-die-aarde-mense.”

Die Weskuswaters roep Van de Venter al van vroeg in sy loopbaan.

“Ek het altyd oor ’n huisie by die see geskryf, nou het dit waar geword!”

Nes die tog van Gauteng tot die koue water van die Weskus, is dié van Van de Venter se musiekloopbaan ook een wat hom al ver geneem het.

Na matriek het Van de Venter ’n gapingsjaar geneem, waartydens hy seker gemaak het dat sy musiekkwalifikasies reg was vir hom om die volgende jaar uitvoerende kunste, ligte musiek en jazz by Technikon Pretoria (nou TUT) te gaan studeer.

Dis hier waar hy boesemvriende met Nianell, oftewel Sonia Nel, en Clinton Waring geword het.

“Hulle het ons baie hard gedruk om saam te begin optree. Ons het maklik tien jaar lank saam gespeel.”

Hy het gedurende hierdie eerste paar jaar in die bedryf sy eerste album, Voel vere, bekend gestel.

Hy het in sy loopbaan onder andere ook ses jaar lank in Laurika Rauch se musiekgroep gespeel.

“Saam met Laurika het ons die geleentheid gehad om in die Royal Albert Hall en die Wembley-arena in Londen te sing.”

Hierdie geleenthede vorm deel van Van de Venter se talle loopbaan-hoogtepunte.

“Dit was die grootste gigs wat ek ooit gedoen het.”

Kort daarna is hy deur Matthys Roets genader om deel van die groep Ses Snare te word.

  • “My Bok” is van vandag af op alle digitale platforms beskikbaar.

Kyk na die musiekvideo daarvan hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.