Wynand en Lindi doen dinge nou Anders

Anders-orkes-se-Wynand-en-Lindi-Delport

Wynand en Lindi Delport van Anders. Foto: Facebook.

Die volgende paar maande gaan in meer as een opsig die begin van ’n nuwe tydperk in die professionele  en persoonlike lewe van getroude sangpaar Anders wees.

In November word Wynand en Lindi Delport, die twee lede van dié sangpaar, ouers wanneer hul babadogtertjie gebore word, en twee maande vroeër word hul jongste album, #Ek onthou, vrygestel. Hulle het in Maart besluit om weg te breek van hul platemaatskappy en hul eie ding te doen.

Net soos hul vorige album, #Liefdesverhale, het die nuwe album ’n sentrale tema, naamlik herinnneringe wat hulle as individue maar ook as egpaar opgebou het en wat volgens hulle universele betekenis het. Met elke liedjie probeer hulle  om mense terug te neem na ’n spesifieke tyd in mense se lewe. Die meeste luisteraars behoort aanklank te vind, omdat dit handel oor onderwerpe soos eerste liefde, hartseer, teleurstelling en goeie tye.

Die album is in Julie by ’n vakansiehuis in Potchefstroom opgeneem. Volgens Lindi was dit iets wat hulle nog altyd wou doen, en sy beskryf die proses as baie interessant. Die orkeslede, Jason Moser en Rixi Roman, het hul vroue saamgeneem en die week saam met hulle geniet. Stefan Swart was weer die ingenieur van die album.

Wynand vertel dat die album ’n “pop-rock-gevoel” het, en dat daar nie meer soveel van ’n country-element soos op #Liefdesverhale is nie. Die idee van die album was om hul aanhangers op ’n reis te neem van herinneringe aan die goeie en slegte tye in hul lewe, en om ook hul eie ervarings op ’n musikale manier te deel. Die musiekvideo van die titelsnit word op 28 Julie verfilm. André Velts gaan die regisseur wees en die video sal in Augustus op Jukebox vrygestel word. Lindi is baie opgewonde oor die titelsnit. Lindi vertel dat dit gaan oor die dag toe sy en Wynand besef het dat hulle meer as net vriende wou wees; hulle was twee tieners op ’n kerkkamp en op die busrit terug het Wynand vir die eerste keer haar hand vasgehou. Sy het geweet dat sy vir die res van haar lewe by hom wou wees. Daarom beskou sy dit as ’n spesiale liedjie wat goeie herinnneringe terugbring.

Nog ’n snit wat vir hulle uitstaan, is “Wat het jy gedoen”, wat ‘n lekker rock-klank het.  Dit sal aanklank vind by enigiemand wat deur ’n tyd van teleurstelling gegaan het met ’n vriend of familielid. Die Delports se babadogtertjie word in November gebore, en Wynand het “Lullabye” vir haar geskryf.

Die Delports is baie opgewonde oor die pad wat vir hulle voorlê. Hulle besef dat die musiekbedryf, soos enige huwelik, nie altyd maanskyn en rose is nie. Omdat hulle tot die besef gekom het dat hulle hul groep se naam in al sy uiterstes wil beleef, het hulle besluit om onafhanklik van enige platemaatskappy te wees. Hulle wou nog altyd 100% in beheer wees van die musiek wat hulle maak; hulle glo in integriteit en sal nie op ’n verhoog staan en iets sing waarin hulle nie glo nie, of waarvoor hulle nie ’n passie het nie. Volgens hulle kan hulle nou musiek maak wat hulle geniet en, meer as enigiets anders, waarop hulle trots kan wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.