‘Yster en vuur’ – Richard van der Westhuizen

Foto: facebook.com

Foto: facebook.com

Hoewel Richard van der Westhuizen hoofsaaklik as akteur bekendheid verwerf het, het hy ook al ’n aantal treffers as sanger gehad.

Aanvanklik het sy temaliedjie van die televisiereeks Ballade vir ’n enkeling ’n groot treffer geword en daarna het hy en Lochner de Kock groot sukses met hul album Tussen treine behaal. Nadat hy verlede jaar met sy album Ballade vir ’n enkeling en die jare daarna teruggekyk het op sy loopbaan tot dusver, het Van der Westhuizen sy jongste album, Yster en vuur, pas uitgereik.

Soos wat ’n mens van hom verwag, het hy ’n aandeel in die komposisie van elke snit in die album gehad. Op die eerste snit, “Duiwelskloof”, sing Anna Davel saam met hom. Hul stemme werk baie goed saam en hierdie snit kan ’n groot treffer word.

Op “Renoster” sing twee van sy eertydse sangmaats, Lochner de Kock en Gerhard Steyn, saam met hom. Op hierdie snit neem Richard baie sterk standpunt in teen die renosterstropery wat nou al geruime tyd lank plaasvind. Gewoonlik is Richard nie noodwendig iemand wat hierdie soort liedjies skryf nie, maar dalk is dit goed dat iemand sy stem dik maak hieroor.

“Jakkalsmaan” is een van die snitte waarvoor Richard die woorde en musiek geskryf het. “Bettysbaai se berge” is een van die moontlike radiotreffers in die album, hoewel dit nie noodwendig op ’n kommersiële gehoor gemik is nie. Hoe ook al, baie mense sal met die lirieke kan identifiseer, want dit gaan maar oor ’n plek waar jy kleintyd kon droom en van jou probleme vergeet.

“Die groot man langs die water” is nog ’n baie goeie snit, veral as gevolg van die digterlike lirieke. Die bekende skrywer en rolprentkenner Leon van Nierop het “In my wentelbaan” saam met Richard geskryf.

Die titelsnit is nog een van die moontlike radiotreffers, veral omdat ’n mens weer eens met die woorde kan identifiseer.

“Min gepla” is heeltemal anders as die meeste ander snitte in die album; die lirieke herinner baie aan dié van Johan Stemmet se treffer “Traak my nie”. Hierop sing hy van ’n man met wie dit nie so goed gaan nie, maar vir wie dit nie ’n probleem is nie.

Die volgende snit, “Skepe in die nag”, kom, snaaks genoeg, in twee dele voor.  Hierdie snit het oorspronklik in die tweede reeks van Ballade vir ’n enkeling voorgekom, en as dit dalk bekend klink, is dit die rede waarom.

Die laaste snit op die album is iets besonders: Richard is nie die soort kunstenaar wat ’n mens met sokkie-musiek sal assosieer nie, maar op “Doring op die dansvloer” bewys hy dat hy homself nie altyd ernstig opneem nie en nog weet hoe om die lewe te geniet.

Richard het vorendag gekom met ’n CD wat van onberispelike musikale integriteit spreek en gemik is op die musikale fynproewer, maar in die goeie sin van die woord. As jy moeg is vir niksseggende lirieke en “kunstenaars” vir wie roem en geld belangriker as musiek is, moet jy hierdie album by jou versameling voeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.