Zahn voel weer son op haar gesig ná donker seisoen

Zahn (Foto: Zahn/Facebook)

Vir jare het die sangeres Zahn net “roumusiek”, soos wat sy self na haar vorige enkelsnitte verwys, gemaak.

Die Centurionse sangeres, wat in 2019 in die Afrikaanse musiekmark verskyn het met haar debuutalbum Masker, sê sy wou met haar jongste enkelsnit, “Somerson”, die donkerder ballades waarvoor sy bekend is, agterlaat.

“Somerson” is ʼn ritmiese popliedjie wat die voete sal laat jeuk. Met dié liedjie bevestig Zahn dat sy deur ʼn genesingsproses moes gaan wat haar uiteindelik die lig aan die einde van die tonnel laat sien het.

“Ek is as kind geboelie. Ek het eers deur my liedjies vergifnis en vrede gevind. Musiek en woorde het gehelp met die genesingsproses,” sê Zahn.

“Op ʼn meer figuurlike vlak kan die liedjie ook beskou word as my sonnige terugkeer na die musiekbedryf. Ek het die mantel van die hartseer en pyn soos die winter van my skouers afgegooi en nou hardloop ek na die son toe.

“Ons vergeet soms dat ná ʼn koue winter, die warm son altyd weer sal skyn.“

Zahn het dit reggekry om die afgelope paar jaar verskeie musikale gedaanteverwisselings te ondergaan.

“Ek het ook deur ʼn pynlike groeiproses ontwikkel tot ʼn sangeres wat luisteraars met my musikale weerloosheid ontroer. Ek is vir eers klaar met die sogenaamde roumusiek en was lus was om iets so warm soos ʼn heerlike sonskyndag uit te reik.”

“Somerson” is saam met Roux Cloete en Ruan Tennant geskryf. “As mense na die liedjie luister moet hulle voete onmiddellik begin beweeg. Hulle gedagtes moet dwaal na ʼn braaivleisvuur, ʼn blou swembad of ʼn vakansie by die see.”

“Somerson” is beskikbaar op alle groot digitale platforms.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.