Zoid-droom word waar met Kunstekaap-solo

Karen Zoid (Foto: Verskaf)

Karen Zoid (Foto: Verskaf)

Die rock-sangeres en president van die Republiek van Zoid Afrika, Karen Zoid, is op 27 September by die Kunstekaap in die Wes-Kaap te sien vir ʼn eenmalige solovertoning.

Karen meen dié optrede is een van haar grootste drome wat bewaarheid word. “Om ʼn solovertoning in die Kunstekaap te doen is ’n groot hoogtepunt in my loopbaan. Dit is fantasties om die hele teater vir myself te hê.

“Ek onthou die eerste keer dat ek in so ʼn groot teater ingeloop het; ek was klein en Janice Honeyman was op die verhoog besig met ʼn musiekblyspel. Ek sal daai dag nooit vergeet nie. Ek het destyds gedink dit sal darem lekker wees as ek eendag ook op so ʼn groot verhoog kan sing.”

Die vertoning sal bestaan uit haar grootste Engelse en Afrikaanse liedjies waaronder “Afrikaners is Plesierig”, “Engel”, “Small room”, “Aeroplane Jane” en “Want as ek droom”.

Die sangeres meen dié vertoning is die perfekte geleentheid vir duifies om te gaan koer op die maat van musiek. “Dis lente in Kaapstad, die mooiste stad in die wêreld. Mense kan kom handjies vashou in die donker,” het sy geskerts.

Karen Zoid is op 27 in 'n solovertoning te sien by die Kunstekaap (Foto: Verskaf)

Karen Zoid is op 27 in ‘n solovertoning te sien by die Kunstekaap (Foto: Verskaf)

Karen se gewilde kletsprogram Republiek van Zoid Afrika het vroeër vanjaar ’n Safta-toekenning gewen in die kategorie “Beste Televisie Geselsprogram.”

Al drie Republiek van Zoid Afrika-klankbane het goue status bereik, en sy het ook groot sukses op iTunes en YouTube behaal deur Suid-Afrikaanse musiekgeskiedenis te maak met tien liedjies vanaf dié albums wat die nommer 1-posisie op SA iTunes behaal het.

Die trefferliedjie “Toe Vind ek Jou”, wat sy saam met Francois van Coke opgeneem het, is ook onlangs meer as twee miljoen keer op YouTube gekyk.

Die vierde reeks van dié program is vanaf 11 Oktober om 20:30 op kykNET te sien.

Kaartjies vir die vertoning is beskikbaar by Computicket.

Besoek ook Karen Zoid se Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.