Muurkuns gryp verbeelding aan

muurkuns

Kobus van Zyl van Bethlehem wy ure aan sy driedimensionele landskappe. Foto: Verskaf.

Deur Susan Maré

Driedimensionele landskappe as muurkuns met subtiele beligting wat die verbeelding aangryp. Dit is die kunsvorm wat Kobus van Zyl van Bethlehem inspireer en waaraan hy baie ure wy.

Kobus is nie net ’n kunstenaar in hart en siel nie, maar ook ’n vaardige ambagsman as dit by die ontwerp en bou van plaaswerktuie kom.

Van ysters na kunssinnige muurkuns? Hoe versoen hy dié twee uiteenlopende ambagte met mekaar? Waar vind kloutjie en oortjie mekaar?

Dis glad nie moeilik nie en daar is heelwat raakpunte, vertel Kobus. Hy is eintlik ’n modelmaker van ambag. Sy nering is om te teken, te ontwerp en uit te voer. Of dit met ysters is – ’n Vibroflex 15 m-werktuig met sy aapstertarm – en/of sagter materiaal soos polistireen wat hy met ’n knipmes kerf om boomstamme in ’n landskaptoneel te word. Eintlik rus die twee uitlewings op dieselfde beginsels. Dit is kuns wat beide uiterste presisie en verbeelding verg. Hy leef vir sulke uitdagings.

Hy kan nie onthou waar hy die driedimensionele muurkuns die eerste keer raakgesien het nie, maar het dadelik geweet hy wil en kan dit ook doen. Hy is lief daarvoor om indrukke van bosse en boomlane met geheimsinnige paadjies te ontwerp en dit met ’n (niesigbare) lampie in die muurkas te belig om só verskillende effekte te skep. Dit is ’n tydsame, eksperimentele proses wat heelwat voorbereiding voorafgaan.

Om materiaal vir sy muurkuns te versamel, het hy lewenslank ’n fyn oog vir detail in die natuur ontwikkel. Oral waar hy kom, sien hy die moontlikhede: klippies, miniatuurblommetjies, fyn blaartjies, grassade, bessies, sand, stukkies bas van bome, plante en vele ander natuurmateriaal. Wat hy kan gebruik, gaan saam huis toe en hy het die kuns ontdek om van die materiaal in die mikrogolfoond droog en gereed te maak vir ’n kunswerk. Die groen boomtoppe van die bloekombome is eintlik pietersieliestingels wat ’n draai in die mikrogolfoond gemaak het. Selfs die oasis wat blommerangskikkers gebruik, is nuttig in die skep van so ’n kunswerk, want dit kan groen mos-indrukke voorstel.

Die boomstamme in een van sy kunswerke van ongeveer A2-grootte is bloekomboomstamme  wat uit polistireen gesny is. Hy het dit versigtig en tydsaam met ’n skerp knipmes gesny en gekerf. Dit is fyn vat en fyn werk om so ’n toneel op te bou en in perfekte balans weer te gee.

Soms is dit wel nodig om van die oorspronklike plan af te wyk. Hy het hom al misgis met gom wat ondoeltreffend was, maar gou geleer watter soort gom werk vir wat.

Tussen die aanvoor van ’n kunswerk en die voltooide produk lê baie planne, oorspronklikheid en selfs truuks. Die geheim is om aanvanklik ’n prentjie te visualiseer van wat jy wil skep. Om daarvandaan te werk is ’n kreatiewe- en wordingsproses wat tydsaam en uitdagend is.

Die elektriese beligting wat versteek word, moet subtiel wees om net die regte effek te verkry. Soms is twee liggies nodig. Wanneer die kunswerk eers sy staan of hang op die regte plek gekry het, speel buitebeligting ook ’n verrassende rol met bykomende ligspieëlings om diepte-effekte te verkry.

“Ek eksperimenteer heeltyd vir die beste effekte,” sê Kobus. “Fyn teksture is nodig vir miniatuureffekte.

“Dit beteken vir my baie om hierdie werke te skep. Bedags is ek heeltyd betrokke by my besigheid met die vervaardiging van plaaswerktuie. Die geklank van yster raas maar in ’n mens se ore. Saans, egter, as ek op die plaas kom, vergeet ek van ysters en hou my besig met hierdie sagter tipe kunsuitlewing. Elke kunswerk is ’n driedimensionele ervaring wat my as kunsenaar laat groei en my menswees verbly.”

  • ’n Kunsuitstalling word beplan vir later die jaar in Bethlehem waar Kobus saam met ander veelsydige kunstenaars van hul werk sal uitstal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.