Nampo skud vere reg vir groot fees

Alles is in rep en roer vir die Nampo-oesdag wat vanjaar tussen 14 en 17 Mei 2013 op die Nampoplaas buite Bothaville in die Vrystaat gehou word.

Dit is die grootste private landbouskou ter wêreld, en verlede jaar het byna 72 000 besoekers ‘n draai kom maak. Vanjaar word sowat 630 uitstallers verwag, en van die uitstallers het aangedui dat hulle nuwe produkte bekend gaan stel. Die tema van vanjaar se oesdag is Sien die wêreld van landbou. Virtuele demonstrasies sal weereens deel wees van masjinerie-uitstallers se uitstallings.

Die Oesdag en sy rol in die landbou-ekonomie is internasionaal bekend en gevolglik is dit een van die belangrikste gebeurtenisse op die landboukalender.

‘n Groot afvaardiging van uitstallers uit Argentinië, vyf Amerikaanse uitstallers en nuwe produkte uit Australië word verwag. Nuwe uitstallers sal ook vanjaar aan die veevertoning deelneem. Uitstallings wat op ontspanning fokus sluit die 4×4-hindernisbaan, die Boerepatentekompetisie en die damesprogram in. Kaartjies vir volwassenes sal Dinsdag, Donderdag en Vrydag R60 beloop, terwyl toegang Woensdag R70 is.

Die NAMPO Oesdag het ontwikkel van die baba wat in 1967 op die plaas Donkerhoek in die distrik Bloemfontein gebore en is deur meer as 200 boere uit die Vrystaat en die destydse Wes-Transvaal bygewoon. In 1968 het meer as 600 besoekers die Oesdag bygewoon en R50 000 se transaksies is beklink. Kenmerkend waaraan die boere gewoond is, word daar in die korrespondensie in die aanloop na die Oesdag baie klem gelê op die voorsiening van verversings. Die dames word versoek om sosaties op die spyskaart te plaas en hulle word vriendelik daarop gewys dat stywe pap by boerewors en braaivleis pas.

Die plaas Marthaville in die distrik Bothaville is in 1974 as permanente Oesdagterrein bekom. Die redes vir die besluit was dat ongeveer 80% van die destydse mielieproduksiegebied binne ‘n radius van 160 km vanaf Bothaville geleë was. Die plaas was ook maklik bereikbaar deur die Klerksdorp-Bothaville teerpad. Die destydse oesdagkomiteelede kon beswaarlik die kilometerlange toue van die huidige Oesdae voorspel.

Die helder blou lug en die helder veelkleurigheid wat die implemente en uitstallers na die terrein bring, maak dit ook ‘n gewilde fotografiese bestemming.

Klik hier vir meer besonderhede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.