NATi, feesteforum stig nuwe hulpfonds vir kunstebedryf

‘n Skermgreep uit die video.

Die Tribuo-fonds is ʼn splinternuwe inisiatief wat van stapel gestuur is om Suid-Afrikaanse vryskutkunstenaars te ondersteun.

Dié niewinsgewende maatskappy is gestig deur die Nasionale Afrikaanse Teater-inisiatief (NATi) in samewerking met die feesteforum (Aardklop, KKNK, Innibos, Suidoosterfees, Vrystaatfees en die Toyota US Woordfees) en kykNET om Suid-Afrikaanse vryskutkunstenaars te ondersteun.

Met die uitbreking van die koronavirus het die plaaslike uitvoerende kunstebedryf tot ʼn stilstand geknars met die verbod op openbare byeenkomste, die sluiting van teaters en vermaaksentrums en die kansellering van verskeie kunstefeeste.

Tribuo is Latyns vir “ek gee”, en dit bied ʼn geleentheid om ʼn belegging in Suid-Afrika se uitnemende kunstenaars te maak. Die fonds is afhanklik van die steun van kunsteliefhebbers en ondersteuners van kunstefeeste en die kunste in die algemeen.

Kunstenaars kan vanaf Maandag 6 Julie aansoek doen om finansiële bystand. Die toekenning van uitbetalings sal deur ʼn paneel van onafhanklike bedryfskundiges hanteer word.

Wie kan aansoek doen?

  • Suid-Afrikaanse burgers of permanente Suid-Afrikaanse inwoners;
  • vryskut- uitvoerende kunstenaars soos akteurs, musikante, dansers, tegnici, skrywers, regisseurs, choreograwe en ander personeel wat dit moontlik maak om werk op die planke te bring;
  • mense wat nie op ʼn gereelde, kontrak- of termynkontrakgrondslag in diens geneem is deur enige organisasie, instansie of produksiehuis nie;
  • kan bewys dat hulle op 15 Maart 2020 aanbiedinge of kontrakte vir werk onderteken het vir die tydperk 15 Maart tot 31 Desember 2020 wat intussen gekanselleer of uitgestel is; of wat kan aantoon dat verdere werksgeleenthede in 2020 onwaarskynlik is;
  • erge finansiële nood weens die Covid-19-pandemie ervaar; deelname oor die afgelope drie jaar aan minstens twee produksies by ʼn erkende kunstefees kan aantoon; OF
  • deelname aan ʼn minimum van drie produksies gedurende die afgelope drie jaar by ʼn teater kan aantoon; OF
  • deelname kan aantoon aan minstens twee plaaslik vervaardigde rolprente en/of TV-reekse
  • nie ʼn voltydse werknemer, bestuurslid, direkteur, beampte of onmiddellike familielid van enige van die fondsvennote is nie;
  • nie gedurende die afgelope drie maande hulptoelae van meer as R10 000 ontvang het nie;
  • ’n SARS-belastingnommer kan verskaf en belastingnakomingstatus kan aandui.

Die stigterslede en organisasies van die Tribuo-fonds skenk hul dienste heeltemal gratis met geen verwagting van betaling deur die fonds nie. Die interimbestuurskomitee bestaan uit Cornelia Faasen (NATi), dr. Leslie van Rooi (Universiteit Stellenbosch) en verteenwoordigers uit die feeste-omgewing en ander rolspelers in die bedryf.

PWC is as ouditeursgroep van die fonds aangestel. Besoek Tribuo se webwerf vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.