Nog ’n TV-netwerk boikot Golden Globes

Die Golden Globes-beeldjies. (Foto: Facebook/Golden Globes)

Die Amerikaanse televisienetwerk NBC is die jongste mediareus om die Hollywood Foreign Press Association (HFPA) te boikot oor ʼn “tekort aan diversiteit”.

NBC, wat die Golden Globe-toekenningsgeleentheid sedert 1996 uitsaai, het gesê hy sal nie die geleentheid in 2022 uitsaai nie en wil “betekenisvolle verandering” sien.

WarnerMedia, Netflix en Amazon Studios weier reeds om deel te neem aan HFPA-verwante geleenthede.

Die Golden Globes is die tweede grootste toekenningsgeleentheid naas die Oscars. Die HFPA, wie se lede stem vir die toekennings wat by die Golden Globes uitgedeel word, word al maande lank deur kritiek in die gesig gestaar wat voortspruit uit ʼn berig wat in Februarie in die Los Angeles Times gepubliseer is.

Luidens die berig het dié geheime organisasie geen swart lede nie en derhalwe het die organisasie daarna onderneem om dit reg te stel. Die HFPA het vandeesweek ʼn plan om diversiteit en inklusiwiteit te bevorder ingedien.

Tina Tchen, voorsitter van die Time’s Up-beweging, het dié plan egter “vensterversiering” genoem.

“Enige organisasie of borge wat hulself daarvoor uitgee om oordeel oor ons lewendige gemeenskap van skeppers en talent te vel, moet beter doen.”

Die akteur Tom Cruise het Maandag drie Golden Globe-toekennings wat hy oor die jare ingeoes het aan die HFPA teruggegee, waaronder die twee beeldjies vir beste akteur vir sy rolle in Jerry Maguire en Born on the Fourth of July.

Tom Cruise. (Foto: Facebook)

In April vanjaar is Philip Berk (88), lid van die HFPA vir die afgelope 44 jaar en voormalige president van dié organisasie vir agt jaar, geskors oor ʼn berig wat hy oor die Black Lives Matter-beweging in ʼn e-pos gedeel het.

Volgens berigte het Berk in ʼn e-pos wat na ʼn groep HFPA-lede uitgestuur is, ʼn berig gedeel wat die BLM-beweging as ʼn “rassistiese haatgroep” beskryf het.

Hy het later gesê hy het berou dat hy die e-pos gestuur het, het die Los Angeles Times berig. Volgens dié nuusbron het hy aan lede gesê hy het dit “aangestuur as ʼn bron van inligting”.

“Phil Berk is met onmiddellike inwerkingtreding nie langer ʼn lid van die Hollywood Foreign Press Association nie,” het die raad in ʼn verklaring gesê.

Berk het geantwoord dat hy “slegs bedoel het om die skynheiligheid waardeur ons verswelg word uit te lig” en het bygevoeg: “Ek het dit aangestuur as ʼn bron van inligting en het geen verskuilde bedoelings gehad nie, maar nou berou ek dit dat ek dit gestuur het.”

Bron: BBC

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Sarel ·

Ag ja …wonder of hy die geld oook terug gegee het…. geheime korrespondent beweer dan Megan Marcle glo volgende genomineer gaan word.

Pieter ·

Tom is net so dom. Julle gee in heeltyd en vergeet wat en waar julle vandaan kom. Die vel kleur ding is nou net die bemarking vir n rashaat groep soos blm (In kleinletters). Ek se die mense moet begin inbors kry en ophou ingee vir alle demands – Binnekort het die ander kleurige mense geen meer eg aan hulle self nie, maar alles draai om een ras. PASSOP, dit kan gebeur.

Mallie ·

Dit wys jou. Selfs oorsee wil die mense oorneem soos in Suid Afrika. En dan bly daar wietsol oor.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.