Nuwe tuiste vir Aardklop-feesterrein

Clover Aardklop

Die Clover Aardklop Nasionale Kunstefeesterrein gaan vanjaar skuif – van Die Bult na die sportgronde van die NWU se Puk-kampus. Maar dit is steeds Potchefstroom wat van 24 tot 28 September op horings geneem gaan word.

Om die splinternuwe, verbeterde terrein bekend te stel, word daar op 20 Julie ’n gratis bekendstellingsfunksie in Potchefstroom by die Senwespark-krieketstadion aangebied. Die hekke sal reeds om 15:00 oopmaak en van 16:00 tot 21:00 kan almal saam met Riana Nel, Pieter Koen, Snotkop, Elizma Theron, Anrika, Henk Grimsell en Medupi partytjie hou.

Bring ’n stoel en ’n kombers. Besoekers is welkom om die komberse ná afloop van die konsert vir die Potchefstroom Dienssentrum vir Bejaardes te skenk. Daar sal sop en brood en iets te drinke te koop wees.

’n Weekkaartjie vir die feesterrein sal slegs dié aand teen die ongelooflike, spesiale promosieprys van R150 te koop wees. Die weekkaartjie teen die normale prys van R300 (R200 vir kinders) sal op 18 Julie deur Computicket beskikbaar wees.

Gautengers wat die bekendstellingsfunksie wil bywoon, kan gebruik maak van die onafhanklike parkeer-en-ry-busdiens. Retoerkaartjies, wat veilige parkering insluit, kos R240 per persoon vanaf die Menlynparkwinkelsentrum en die Royal Elephant Hotel in Pretoria; en R200 per persoon vanaf die East Rand Mall, die Northgate-winkelsentrum, Silverstar Casino, Emerald Casino en die Alberton-winkelsentrum. Besoek www.parkandride.co.za om kaartjies te bespreek.

Die konserte wat van die Maandagaand tot die Saterdagaand gedurende die fees aangebied gaan word, is die Virseker/Beeld Afskopkonsert; Braai Some More; Riders from the Storm; Smokie @ Aardklop; Pussycat, Steve en (Afrikaanse) vriende en die Virseker/Rapport Saterdag-opskop.

Die pryse van dagkaartjies vir die feesterrein (oop van 24 tot 28 September) wissel van R90 tot R120 vir volwassenes en van R50 tot R70 vir kinders. Dié kaartjiepryse is van toepassing vir algemene toegang tot die terrein, wat die aand se konsert insluit – ’n hele dag met lekkernye en snuisterye wat te koop is en ’n musiekfees soos min.

Die volledige feesprogram sal op 18 Julie op die webwerf www.cloveraardklop.co.za wees en die brosjure sal op dieselfde dag in Beeld versprei word.

Klik hier om meer te lees oor die opwindende musiekprogram wat feesgangers te wagte kan wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.