Op Tulbagh blom die kunste in September

Rand van die onbekende deur Susan Smuts. Haar werk word as bemarking  vir die Tulbagh Kunstefees gebruik.

Rand van die onbekende deur Susan Smuts. Haar werk word as bemarking  vir die Tulbagh Kunstefees gebruik.

September is amptelik die begin van die lente. Maar dit is ook die maand waarin die kunste in die dorpie Tulbagh blom.

Vanjaar word die vyfde jaarlikse Tulbagh-kunstefees aangebied in hierdie  pragtige dorpie omring deur manjifieke berge.  Van 11 tot 13 September vanjaar sal kunstenaars, letterkundiges en musikante hier in aksie wees.

“Ons het nie amptelike syfers oor hoeveel mense die fees besoek nie, maar aan die lokale wat al voller word, is dit duidelik daar is elke jaar groei,” sê Averil Slater, een van die feesorganiseerders.

Benewens besoekers uit die onmiddellike buurdorpe van Tulbagh, lok die fees ook mense van Somerset-Wes, Stellenbosch, Kaapstad,  Franschhoek, die Paarl en selfs ander provinsies.

Visuele kunstenaars sal ook hul deure tydens die fees oopgooi.

Die feeskunstenaar Susan Smuts se werk is in die Sendingkerk te sien.

“Die weerloosheid van alles en almal fassineer my en ek het my uitstalling rondom hierdie tema gebou,” sê Smuts. “Hoe ouer ek word, hoe meer bewus raak ek daarvan dat ons van niks seker kan wees nie. Rugbyspelers is byvoorbeeld een dag fris en gesond, en die volgende dag is hulle buite aksie weens beserings. My feeswerk is meestal collages. Dit vergestalt vir my die idee dat dinge nie noodwendig dieselfde bly nie. En daar is ook iets geweldig weerloos daaraan. Ek hou ook van die onmiddellikheid van collage.”

Ander visuele kunstenaars sluit in Laurean Alexander, Tina Nel, Maritha van Amerom Coetzee, Kevin Cupido, Dawid Theron,  Gordon Williams, Vernon Swart, John Bauer, Annette du Plessis, kunstenaars van Salon des Refusés, Susan Proctor Hume en Ronél Bakker.

Die fees word Vrydagaand 11 September om 18:00 amptelik geopen deur Herman Binge, rolprentmaker en beskermheer van die fees. Vir hierdie doel word die Sendingkerk in Van der Stelstraat ingespan. Gert Vlok Nel sal ook by hierdie geleentheid optree.

Nog hoogtepunte die Vrydag is ’n bespreking van Francois Smith se roman Kamphoer deur Lydia Notley (15:00), ’n uitvoering deur die pianis Rocco de Villiers (20:00 Oudekerk-Volksmuseum), en Clive Algar vertel meer oor sy eerste twee boeke Journeys to the End of the World en Flowers in the Sand.

As jy ’n aanhanger is van die kosprogram Kokkedoor, kan jy Johnny Hamman en Marius Uys op 11 September om 20:00 op Twee Jonge Gezellen in aksie sien.

Op 12 September gesels Kerneels Breytenbach oor sy roman Ester en Diana Ferrus oor Saartjie Baartman. En om 13:00 sing Philip de Vos toonsettings van sy eie lirieke in die Oude Drostdy. Van sy foto’s word ook uitgestal.

Op die klassieke musiekspyskaart is Zanne Stapelberg wat op Saterdag 12 September om 16:00 Tea with Puccini op Montpellier aanbied.

Die galakonsert op 12 September om 19:00 is ’n uitvoering van Vivaldi se Vier Seisoene deur die violis Petrus de Beer, akkordeonspeler Stanislav Angelov, baskitaarspeler Schalk Joubert en Albert Frost.

Die bariton Johannes Slabbert, die tenoor Thobela Ntshanyana en die pianis Philippus Hugo tree op 13 September om 11:00 in die NG Kerk op en om 15:00 is daar ’n uitvoering van die Cardea-kwintet in die Oude Kerk-volksmuseum.

Daar is ook fotografie-uitstappies saam met Norman Collins.

Vir kinders word voorsiening gemaak in die Saronsbergteater en op die plaas Vin Doux. En daar is ook The Treasures of the Orchestra, ‘n simfonie-uitvoering wat spesiaal vir kinders ontwerp is deur die Hugo Lampbrechts simfonie-orkes (12 September: 14:30 in die NG-Kerk, Van der Stelstraat).

Mense wat belangstel in die geskiedenis van Tulbagh, kan die Sondag saam met Jayson Augustyn-Clark deur Kerkstraat stap om meer uit te vind oor die ou geboue in hierdie straat.

En as jy iets anders as musiek en voorlesings wil ervaar, is daar die Tulbagh Plaasmark en verskeie kos en handwerkstalletjies in die dorp.

“Met sowat 1000 beddens vir besoekers in gastehuise en hotelle, is hier genoeg slaapplek,” sê Slater.

Besoekers wat die historiese dorpie vir die fees wil besoek, moet egter betyds bespreek want beskikbare ruimtes word vinnig verhuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Eliza-beth ·

MAROELA – kyk asb na die bewoording in die tweede paragraaf – dit maak geensins sin: “…in hierdie pragtige dorpie omring deur manjifieke dorpie.” ??

Sune van Heerden ·

Dagsê Eliza-beth

Dankie! Dit was inderdaad ‘n fout – ons het die berig gewysig.
Groetnis
Suné
nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.