Opening van solo-uitstalling ’n reusesukses, sê kunstenaar

Martyn-Schickerling

Martyn Schickerling. Foto: Leonie Bezuidenhout

Met die openingsaand van die jong kunstenaar, Martyn Schickerling, se solo-uitstalling by Longstreet Art Lovers 1932-galery in Waterkloof, Pretoria, kon ’n mens duidelik die energie soos elektrisiteit in die lug aanvoel. Jong mense en kunsliefhebbers van oor die hele Pretoria het met wynglase in die hand en bewondering in die oë na Martyn se werk getuur.

“Ek kon nie vir beter vra nie,” sê Martyn oor die mense wat na sy kuns kom kyk het. “Toe ek hier aankom, het ek reeds ʼn paar rooi plakkers gesien,” vertel hy. Hy verwys na die rooi kolletjies wat op die kunswerk geplak word om vir die galerygangers aan te dui dat die stuk verkoop is. “Dít is vir my goud.”

Angus Taylor, die bekende beeldhouer en Martyn se mentor, het ook die geleentheid bygewoon. Hulle werk voltyds saam by Dionysus Sculpture Works, waar Martyn optree as Angus se beeldhouer-assistent. “Ek is bly hy het kom kyk,” vertel Martyn beskeie. “Sy mening is vir my verskriklik belangrik, al is dit ook intimiderend op ʼn manier,” lag hy.

“In die hedendaagse vinnige kultuur waar alles onmiddellik is, is beeldhou nie heeltemal deel van daardie onmiddellikheid nie,” lug Angus sy mening. “Dit vat baie lank om te ontwikkel; om te leer om deur middel van ʼn stuk klei of ʼn stuk metaal te kan kommunikeer wat jy wil sê. Dis amper soos ʼn nuwe taal wat jy leer. Maar, jy kan hom nie net leer nie, jy moet hom bemeester,” vertel Angus.

“En Martyn is iemand wat dit doen. Ek het baie waardering vir sy toewyding in die benadering tot kuns-maak. Hy is nie op soek na vinnige, kortstondige antwoorde nie.”

Angus kon nie uitgepraat raak nie. “Sy werk is vars en oorspronklik. Dis soos sy karakter ook is; dis borrelend, maar hy het ʼn baie gesonde dualiteit, hy weet ook van die ander kant,” gesels Angus verder. “Dis nie net sprankelend en vriendelik nie, daar is ook die skaduwees waarvan hy bewus is. Dit kom deur op ʼn speelse, humoristiese manier. Iemand het eens gesê jy kan die moeilikste onderwerpe met humor kommunikeer – ek dink hy doen dit goed.”

Kuns en die jongklomp

Een van die eienaars van die Longstreet Art Lovers 1932-galery, Sammy Müller, sê dat die pols van die galery meestal vir jong mense klop.

“Die galery is nou so ongeveer vier jaar oop,” sê sy geesdriftig. “Ek en my vennote het van die begin af geweet wat ons wou bereik; om op jong kunstenaars te fokus en om vir hulle ʼn platform te bied; om interaksie met jong mense te hê en om dit vir hulle toeganklik te maak.”

“Die atmosfeer is baie anders as dié van ander kunsgalerye waaraan jong mense gewoonlik dink as hulle aan galerye dink,” vertel Sammy verder. “Ek het van die begin af geweet ek wil nie klassieke musiek in die agtergrond hê of die kliniese wit boks nie. Ek wou hê dat jong mense hier gemaklik moet voel. Hulle bring hulle werk in en dan sit ons op die vloer en gesels daaroor,” glimlag sy.

“Dit is vir ons belangrik dat daar ʼn goeie balans is tussen jong, onbekende kunstenaars en gevestigde kunstenaars. Ons hou daarvan as hulle saam in groepe hul werk uitstal,” sê Sammy.

Sy lug ook graag haar mening oor Martyn se kunswerk. “Dit is baie anders,” sê sy vasbeslote. “Ek dink kuns is geneig om tendense te volg, maar Martyn volg geen tendense nie. Sy werk is uniek en spesiaal.” Sy glimlag weer. “Ons in die kunswêreld kan onsself nogal ernstig opneem. Martyn kry dit reg om ʼn tree terug te gee en satiriese werk met ʼn sin vir humor te maak, terwyl die werk steeds ʼn boodskap het.”

Angus beaam Sammy se stelling. “Martyn wil praat met Jan Alleman op straat. Dit is só belangrik, want kuns kan goed kommunikeer wat woorde nie kan nie. Én jy kan die toewyding sien in die werk. Die toewyding wat dit geverg het om al daardie lyne te trek om een tekening te maak – dis nie ʼn vinnige antwoord op ʼn lang kwessie nie.”

Volg gerus Martyn se blad op Facebook.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.