Oscars-seremonie moontlik uitgestel

Die gesogte goue Oscar-beeldjies. (Foto: AP Photo/Chris Pizzello)

Die Oscars-toekenningsgeleentheid vir 2021 sal moontlik uitgestel word weens die ontwrigting wat wêreldwyd deur die uitbreking van die koronavirus teweeg gebring is.

Volgens Variety is daar nog geen amptelike besluite deur die Academy of Motion Picture of Arts and Sciences geneem oor die datum waarop die gesogte goue beeldjies vir die 93ste keer uitgedeel gaan word nie. Die toekenningsgeleentheid vind tans nog op 28 Februarie plaas.

Variety berig sleutelfaktore soos rolprentproduksies wat gestaak is, die sluiting van duisende fliekteaters wêreldwyd en die uitstelling van uitreikingsdatums van vele lankverwagte rolprente sal moontlik die Academy noop om die toekenningseremonie uit te stel.

“Dit is onmoontlik om te weet hoe die rolprentlandskap gaan lyk. Ons weet ons wil rolprente vier, maar ons weet nog nie presies watter vorm die viering sal aanneem nie,” het David Rubin, president van die Academy of Motion Picture of Arts and Sciences, verlede maand aan Variety gesê.

Volgens die Academy se reëls moet rolprente voor 31 Desember in rolprentteaters te sien wees om in aanmerking te kom vir ʼn Oscar-benoeming. Dié reël is egter in April deur die Academy hersien en dus kan flieks wat deur ʼn stromingsdiens gedebuteer het en nie ʼn teaterdebuut gehad het nie, ook in aanmerking kom vir ʼn goue beeldjie.

Die Academy het egter benadruk die reël is tydelik en sal slegs geld vir flieks wat in 2020 vrygestel is. Die twee klankkategorieë sal ook vanjaar saamsmelt.

“[Die Academy] glo dat daar geen beter manier is om die krag van flieks te beleef as om dit op die grootskerm te sien nie. Ons toewyding daaraan bly onveranderd en onwrikbaar. Nietemin noodsaak die Covid-19-pandemie ʼn tydelike aanpassing van die reëls om in aanmerking te kom. Die Academy ondersteun ons lede en kollegas gedurende hierdie onsekere tyd. Ons erken die belangrikheid daarvan dat hulle werk raakgesien en gevier word, veral nou, wanneer gehore flieks meer as ooit waardeer,” het Rubin bygevoeg.

The Guardian berig dat die uitsending van die Oscars ʼn groot inkomste vir die Academy beteken, ondanks kykergetalle wat jaarliks afneem. Volgens berigte het die televisienetwerk ABC $80 miljoen (sowat R1,4 miljard) in 2017 opgedok vir die uitsendingregte van dié toekenningsgeleentheid.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.