Pendoring verskuif die grense

Tiaan Ras, direkteur van Etiket (middel) saam met Susan Lombaard, bestuurder van Maroela Media (regs) en Suné van Heerden van Maroela Media (links) toe Maroela Media silwer Pendoring ontvang het vir sy Grootste Afrikaner-veldtog (September 2013)

Tiaan Ras, direkteur van Etiket (middel) saam met Susan Lombaard, bestuurder van Maroela Media (regs) en Suné van Heerden van Maroela Media (links) toe Maroela Media silwer Pendoring ontvang het vir sy Grootste Afrikaner-veldtog (September 2013)

Die Pendoring Reklametoekennings vier sy mondigwording vanjaar deur sy deure wyd oop te gooi vir al die inheemse tale van Suid-Afrika.

Dit beteken dat die Eg Suid-Afrikaanse kategorie met sy vier subkategorieë waarvoor die ander inheemse tale (Afrikaans uitgesluit) kon inskryf, nou wegval en dat al die amptelike inheemse tale op gelyke voet meeding om Pendoring se gesogte goue en silwertrofees in al die kategorieë.

Die Umpetha-toekenning vir die beste werk in ’n inheemse taal, behalwe Afrikaans, was verlede jaar ’n kontantprys van R20 000. Die prys is nou aansienlik vergroot en behels nou, nes die Prestige-toekenning, ’n oorsese studiereis ter waarde van R100 000. Net die wenners van die goue trofees ding mee om die twee hoofpryse, naamlik die Prestige- en die Umpetha-toekenning.

Daar is ook veranderinge in die studentekategorie. Daar sal voortaan twee pryse van R10 000 elk toegeken word – R10 000 vir die beste werk in Afrikaans en R10 000 vir die beste werk in een van die ander inheemse tale.

Die stap om al die inheemse tale op ’n gelyke voet te laat meeding, is deur die bank deur skeppendes in die bedryf geprys.

“Ek het Pendoring deur die jare dopgehou en deelgeneem aan Pendoring se transformasie en dit lyk asof Pendoring waarlik mondig geword het,” het Pepe Marais, medestigter en uitvoerende skeppende hoof van Joe Public, gesê. “Ek meen die reklamebedryf moet sy manier van kommunikeer verander van ʼn enkeltalige aanslag na ʼn skeppende aanslag wat alle tale insluit.”

Siphelele Sixaso, bemarkingshoof van SABC Radio is dit eens. “Dit is ʼn grondverskuiwende stap van Pendoring. Dit is wonderlike nuus vir die SAUK se radiostasies wat nog altyd voorgeloop het met moedertaaluitsendings. Daardeur maak ons seker dat ons identiteit as ʼn nasie behoue bly en dat al die segmente van ons samelewing dit waardeer. Ek sien uit na vernuwing en kreatiwiteit wat in die inheemse tale uitgedruk gaan word. Baie geluk aan almal wat by die stap betrokke is om ons inheemse tale hul regmatige plek te gee.”

Jerry Mpufane, groepdirekteur by M&C Saatchi Abel, stem heelhartig saam. “Ek wil Pendoring geluk wens omdat advertensies in die inheemse tale nou die erkenning sal kry wat hulle verdien. Die reklamebedryf sal nooit daarop kan aanspraak maak dat hy die beste werk lewer as advertensies nie in al die inheemse tale gemaak word nie. Bemarkers kan net tot die harte van verbruikers spreek as hulle met hulle in hul moedertaal praat. Die bedryf kan dus nie aanspraak maak daarop dat hy in ʼn vennootskap met kliënte is, as hy nie met die verbruikers se hart praat nie.”

Volgens Tiaan Ras, strategiese direkteur van Etiket, moet Pendoring geprys word vir die stap om alle inheemse tale op gelyke voet in te sluit. “Gesien teen die agtergrond van ʼn direksie en borge wat Pendoring aanvanklik in die lewe geroep het om goeie Afrikaanse reklame te bevorder en te beloon, is dit ʼn groot en dapper stap in die rigting om die Pendoring Reklametoekennings eg Suid-Afrikaans te maak. Die stap maak dit baie duidelik dat Pendoring se visie is om die diversiteit van Suid-Afrikaanse reklame te bevorder en te vier,” het Ras gesê.

Elane Vrey, dosent by die AAA School of Advertising in Randburg, sê dat meer as 70% van haar kopieskryfstudente in hul eerste jaar se huistaal is nie Engels óf Afrikaans nie. “Die groter gewig wat die stap aan Pendoring gee, is wonderlike nuus vir die AAA School of Advertising. Nie net het inheemse tale ʼn ryk geskiedenis van storievertel nie, maar baie van die insigte en ‘groot idees’ is so nóú verweef in die inheemse kulture dat dit impak verloor as dit in Engels gekommunikeer word,” het sy verduidelik. “Dit is regtig bevrydend om te sien hoe my studente konsepte in hul moedertaal uitvoer. Hulle het baie meer selfvertroue en die resultate is absoluut briljant! Ons kan nie wag om ons werk in te skryf en op gelyke voet in al die kategorieë mee te ding nie.”

Darren Melts, dosent by die Vega School of Brand Leadership in Pretoria, stem saam. “Spesifiek uit ʼn studenteperspektief skep dit groter geleentheid vir werk wat eg Suid Afrikaans is om erkenning te kry. Dit maak van Pendoring ʼn betekenisvolle platform vir die erkenning van plaaslike skeppende werk.”

Inskrywings open op Maandag, 9 Mei en sluit op Maandag, 1 Augustus 2016.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.