Piekniek en ballet onder die sterre met Night & Day

Ballette

Kim Vieira en CTCB-dansers in Night & Day. Foto: Pat Bromilow-Downing

Die baie gewilde buitelug-balletseisoen wat jaarliks deur die Kaapstadse Stadsballet in die Maynardville-park aangebied word, begin op Sondag 24 Januarie met die trefferproduksie, Night & Day.

Alle dansliefhebbers kan dus hul piekniekmandjies gereed kry om skemerkelkies en versnaperinge in die boomryke park te kom geniet, gevolg deur ʼn romantiese ballet opgevoer op die asemrowende verhoog van die Maynardville-buitelugteater.

Vanjaar se ballet, Night & Day, word op maat van Cole Porter se bekende musiek gedans en neem die gehoor op ʼn aangrypende reis deur dié beroemde liedjieskrywer se besonderse lewe en loopbaan. Die ballet is die geesteskind van Robin van Wyk, choreograaf en artistieke direkteur van die Kaapstadse Stadsballet en is geïnspireer deur die bekroonde film, De-Lovely.

Night & Day is skouspelagtige, bruisende vermaak en absoluut perfek vir ʼn heerlike Sondagaand-uistappie na een van Kaapstad se mooiste buitelugteaters. Die produksie is werklik een van die sprankelendste juwele in die Kaapstadse Stadsballet se repertoire en vind groot aanklank by alle dansliefhebbers, sê Van Wyk.

Om dié unieke balans te vind het Van Wyk sy mede-choreograwe, Kirsten Isenberg, Mervyn Williams, Nigel Lucas en Paul Johnson, uitgenooi om hul kreatiewe towerkragte in te span. Die resultaat is ʼn feestelike kombinasie van klassieke en neo-klassieke ballet, met ʼn goeie knippie jazz- en klopdans en selfs ʼn tikkie stoute Latyns-Amerikaanse passies en elegante baldans.

Die voormalige prima ballerina, Tracy Li en haar jarelange dansmaat Daniel Rajna, sal tydens die openingsaand op Sondag 24 Januarie as gaskunstenaars optree, terwyl die belowende jong jazzmusikant, Jessie Williams, by alle opvoerings meesleurende solos op sy klarinet sal vertolk.

Met beroemde musikale treffers soos “Let’s Do It”, “I’ve got you under my skin”, “Let’s misbehave”, “Love for sale”, “In the still of the Night” en “Begin the Beguine” as die klankbaan, is Night & Day ʼn danservaring uit die boonste rakke wat nie misgeloop kan word nie.

Optredes by die Maynardville-opelugteater in Wynberg vind plaas vanaf 24 Januarie tot 21 Februarie, slegs op Sondae-aande en begin om 20h15.

Kaartjiep wissel van R130 – R150 en is beskikbaar by Computicket of Kunstekaap Bel-ʼn Sitplek by 021 421 7695.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.