Pierneef op 10 Desember 2020 weer in kollig

Pierneef het in sy leeftyd (1886-1957) landwyd erkenning as skilder geniet en mense se harte gewen met die vaslegging van tonele op doek waarmee hulle vertroud was. (Foto: Verskaf)

Deur Susan Maré

Hendrik Pierneef wat wêreldwyd as Suid-Afrika se eerste groot skilderkunstenaar van betekenis beskou word, is 63 jaar ná sy afsterwe in 1957 opnuut in die kollig. Sy naam het onlangs selfs in die hooggeregshof in Bloemfontein weerklink.

Tot vandag toe weet hy nie of Pierneef ’n skildery of mens is nie. Die naam Pierneef beteken vir hom niks, het Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, in die hooggeregshof in Bloemfontein gesê.

’n Pierneef-skildery was onder sy bates wat hy in 2018 uit sy Vrystaatse premierskantoor ontruim het. Hy het getuig in ’n verhoor van sy eertydse lyfwag, Ricardo Mettler, wat tereg staan op ’n aanklag dat hy ’n Pierneef-skildery van miljoene rande uit die premierskantoor gesteel het. Hy word ook van geldwassery en bedrog aangekla. Uitspraak word op 10 Desember verwag.

Natuurlik gaan ’n Pierneef-skildery se geldwaarde enorm wees. Dit is waaroor die hofsaak gaan – dat ’n waardevolle skildery van ’n oumeester wat besit was van die Vrystaatse provinsiale regering, voete gekry het.

Pierneef het in sy leeftyd (1886-1957) landwyd erkenning as skilder geniet en mense se harte gewen met die vaslegging van tonele op doek waarmee hulle vertroud was. Hy was reisend, mensliewend en het oral by mense tuisgegaan terwyl hy uitstallings gehou het. Gewone mense het só kennis gemaak met die kuns van ’n meester.

Pierneef was ook een van die produktiefste skilders van sy tyd in hoofsaaklik vier genres – hout- en linosneë, waterverf, pastel en olieverf. Hier is een van sy bekende landskappe. (Foto: Verskaf)

Pierneef was ook een van die produktiefste skilders van sy tyd in hoofsaaklik vier genres – hout- en linosneë, waterverf, pastel en olieverf. Soos die Duitse komponis Franz Schubert bekend was vir sy Lieder wat onvermoeid uit sy pen gevloei het, selfs op kafeetafels se kleedjies, só was Pierneef. Die muse op sy skouer het hom lewenslank energiek aangemoedig om te skep.

Die omvang van baanbreker Pierneef se nalatenskap was groots. Die 32 panele as opdragwerk vir die nuwe Johannesburgse stasie in 1929 was waarskynlik die hoogtepunt van sy skeppingsoeuvre. Hy het oral in Suid-Afrika en die vroeëre Suidwes-Afrika asook oorsee gereis om temas vir sy werk te vind. In 1933 het hy nog ’n opdrag ontvang, naamlik om die muurpanele vir Suid-Afrikahuis in Londen te skilder.

Erkenning sou nie uitbly nie. Hy was in 1935 die eerste skeppende kunstenaar in Suid-Afrika wat ’n eerbewys van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns toegeken is. Hy het in 1951 en 1957 ook eredoktorsgrade van onderskeidelik die Universiteite van Natal en Pretoria ontvang.

’n Meester van die skilderkuns inderdaad. In sy kremetartskilderye sien mens die lewendige en indrukwekkende effek van hoe Pierneef met lig en donker speel, en dit uitmuntend met mekaar afwissel. Hy toon selfs post-impressionistiese invloede in Die Pieke, gesien van Lanzerac (olieverf) – en waag met lewendige kleure en kort kwashale. Daar is ’n bekoorlike eenvoud in baie van sy skilderye.

Pierneef se skildery met die titel “Komposisie in blou”. (Foto: Verskaf)

Tog het hy selfs ’n hoogtepunt in geometriese ontwerp bereik in sy Komposisie in blou, wat nie algemeen aanvaar is nie. In 1928 was die aanwending van abstraksie en geometrie vir kunsliefhebbers in Suid-Afrika nog onaanvaarbaar. Vandag word Komposisie in blou wyd bewonder.

Sy kunswerke is nie altyd so realisties as wat dit voorkom nie. Hy het deurgaans ’n beeld van die werklikheid geskep deur die rasionele orde van die natuur te beklemtoon. Wat Pierneef se kuns besonders maak, is hoe hy die landskap na vore bring en dit met soveel vaardigheid sy eie gemaak het, dat daar in 2020 steeds van ’n “Pierneefboom” of “Pierneefwolk” gepraat word.

Nie net Magashule nie, maar baie ander Suid-Afrikaners weet ook nie wie hy was nie omdat erfenis- en kultuurgoed agter in die ry staan in ’n nuwe soort Suid-Afrika. Pierneef se lof is in sy leeftyd en daarna deur verskeie kunskenners besing. Hulle wat hom dalk nou vir die eerste keer ontdek, sal hopelik weet en ervaar dat Pierneef ’n buitengewone kunstenaar was.

Sy naam en werk leef ook voort in skilderyversamelings landwyd. Op die wynlandgoed La Motte in Franschhoek is ’n unieke versameling van sy skilderye in die Pierneef à La Motte Restaurant en selfs die Pierneef Syrah Viognier-wynversameling. Dié wynlandgoed behoort aan Hannelie Rupert-Koegelenberg wat gesinslid is van die Rupert-familie, wat kultuur- en kunserfenisse hoog ag en reeds vir baie dekades help bewaar.

’n Pierneef-versameling afkomstig van Pierneef se dogter, Marita Bailey, vind in 1984 veilige bewaring in die Pierneef-museum in die Leendert te Groen-gebou in Vermeulenstraat, Pretoria. Die persoonlike besittings van die familie sluit onder meer 347 kunswerke in, soos olie- en waterverfskilderye, potloodtekeninge, Pierneef se verfkwaste, esel, etspers asook pastelle, kool- en inktekeninge.

Pierneef se nalatenskap is soos wat die Nederlanders dit sou verwoord – gewéldig. Een van Suid-Afrika se beste kunstenaars ooit.

Nog kykstof:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

koos10 ·

Ek wonder nog of Laerskool Pierneef van sy kunswerke het? Ek was as kind daar en is vertel dat daar in die personeel kamer van sy werke was.

Andre ·

Verbaas my glad nie! Ace weet nie eers watse dag dit van die week is nie, solank daar 10% is! Wonder hoeveel van daardie hoe geleerdes in Ace se groep weet wel wat Pierneef is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.