Pretoriase kunstenaar (86) stal uit in Kaapstad

Alice Elahi op die Kaapse strand besig om te verf. Foto: Verskaf

Alice Elahi op die Kaapse strand besig om te verf. Foto: Verskaf

Die Irma Stern-museum in Kaapstad bied van 12 Desember tot 23 Januarie ʼn hulde-uitstalling vir die landskapkunstenaar Alice Elahi aan. Dié uitstalling is heet Alice Elahi – A Capetonian at Heart en weerspieël die kunstenaar se lewenslange passie vir die Kaap.

Die 86-jarige Elahi, ʼn gebore Kapenaar, keer met dié uitstalling terug na haar wortels nadat  sy haar lewe lank in Pretoria gewoon en werk het. Harrie Siertsema, ʼn Pretoriase kunsversamelaar, het dié uitstalling in die Moederstad gereël.

Die Pretoriase Kunsmuseum, waarvan Elahi ʼn erelid is, het aan die begin van die jaar haar vereer met ʼn oorsiguitstalling. In 1988 het die Universiteit van Pretoria ʼn oorsiguitstalling van haar werk aangebied.

Een van die hooftemas in haar oeuvre is haar uitbeeldings van Namibiese woestynlandskappe.

Elahi het ʼn BSc-graad in Brittanje verwerf en verder in Londen studeer. Sy het saam met haar gesin in 1957 teruggekeer na Suid-Afrika en haar in Pretoria gevestig. In haar vroegste werke verbeeld sy haar kinders wat op die strand speel. In die 1970’s het sy ook met pen-en-ink-sketse historiese bakens van die hawe in Houtbaai en die vlootdokke in Simonstad vasgevang.

Sy het oral langs die Kaapse kuslyn geskilder, later die bergpasse ontdek en haar reise uitgeberei na die Namibiese duinevelde. Haar oneindige belangstelling in die veranderende luim van die see was ʼn konstante tema, wat haar later na die verlatenheid van die Skedelkus en Wildekus gelei het.

Die uitstalling neem die kyker op  ʼn reis na storms in die Kaapstadse hawe, robbe wat in die water baljaar by Kaappunt, tot by die Namibiese Skedelkus. Vir navrae stuur ʼn e-pos na [email protected] of [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.