Pukki Talentfees vereer prof. TT Cloete

Prof TT Cloete Foto: www.uj.ac.za

Prof TT Cloete Foto: www.uj.ac.za

ʼn Video van Cloete Park en ʼn video van prof. Cloete se reaksie daarop volg onderaan die berig.

Die NWU se jaarlikse Pukki Talentfees is vanjaar opgedra aan professor T.T Cloete wat hierdie maand sy 90ste verjaardag vier.

Die hoogtepunt van die aand was die onthulling van ʼn park wat aan hom opgedra is. Alanka Craffert, administratiewe beampte by Puk Kunste, sê hulle het lank besin oor wat hulle vir prof. Cloete kon gee hom te vereer. “Hoe eer mens ʼn profeet in sy eie land wat 90 jaar oud word?” het hulle gewonder. “Gee jy vir hom nog ʼn trofee of iets wat hy teen die muur hang en stof gaan vergader? Of is daar iets wat ons vir hom kan gee met ʼn tikkie nalatenskap of ewigheidswaarde?”

Craffert sê Cloete praat gereeld van ʼn park naby sy ou huis in Coetzeestraat in Potchefstroom.  Hy en sy gesin het aanvanklik self na die parkie omgesien en dit natgelei en as gesin baie tyd daar spandeer. Hy het egter ʼn ruk gelede verby die park gery en was teleurgesteld om te sien hoe verwaarloos dit geraak het. Dit was dus die ideale besluit om “Cloete Park” aan hom op te dra.

Volgens Craffert is hulle tans besig om die park se naam amptelik na “Cloete Park” te verander. Hulle het ook die park skoongemaak en borge gekry om bankies en blompotte te verskaf. Daar is glo ook planne om ʼn kunsmuur op te rig. “Die langtermyn plan is om die park te omskep in ʼn poësieparkie waar ons die wonder van skryfkuns kan uitbeeld en ʼn sin vir gemeenskap en omgee vir mekaar skep,” het sy gesê.

Maroela Media was by die Pukki Talentfees en het met prof. Cloete gesels oor wat die geleentheid vir hom beteken. ʼn Videogreep van sy reaksie volg onderaan die berig.

Die Pukki Talentfees dek die uitvoerende en skeppende kunste en die gehoor is die aand vermaak deur talle jong aspirantsangers en -kunstenaars. Die musiekgroep Bach ʼn BieTTjie het ʼn verwerking van Cloete se gedig, ‘God die digter’, gesing en het ook uiteindelik met die prys as beste vokaal ernstige musiekgroep weggestap vir hulle verwerking van Johann Sebastian Bach se Organ Fugue.

Die musiekgroep Flatlander het die toekenning ontvang vir die beste oorspronklike komposisie in die skeppende kategorie en Carla le Grange het die rektorstrofee ontvang as algehele wenner in die uitvoerende kategorie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.