Refentse gereed om Die Blou Hond aan die brand te sing

Foto: Refentse Morake, Instagram

Lesers wat nog nie die kans gehad het om Refentse op die verhoog te sien nie kry op 14 November die geleentheid om een van Afrikaans se gunsteling-mansstemme in die Die Blou Hond in die Ooste van Pretoria te hoor sing.

Refentse sing verskeie van sy liedjies, wat ʼn mengelmoes van kontemporêre en alternatiewe elemente, rock, reggae en selfs ʼn tikkie kletsrym insluit. Die gehoor kan ook uitsien na treffers soos “Jantjie” en “Suikerbossie”, wat sommer nuwe lewe kry.

Dié sanger is vanjaar vir sewe Aitsa-toekennings benoem wat kontemporêre album en album van die jaar, asook liedjieskrywer, kunstenaar, gewildste liedjie (“Reisiger” en Liefdesgenerasie) en musiekvideo van die jaar insluit.

Refentse se album Liefdegenerasie bevat musiek waarby elke generasie aanklank vind. “Reisiger”, die eerste snit in sy album, se musiekvideo het al meer as ʼn miljoen trefslae op YouTube gekry.

“Die lied gaan oor onvoorwaardelike liefde. Ek het baie vriendinne gehad wat nie met die beste ouens uitgegaan het nie. Ek kon nooit verstaan hoe jy kan teruggaan na iemand wat jou seermaak nie. Maar ek het daarna besef dat liefde eintlik só ʼn sterk krag is,” het Refentse vroeër vanjaar aan Maroela Media gesê.

Liefdegenerasie verteenwoordig nóg ʼn groot sprong vorentoe vir een van Suid-Afrika se gewildste jong kunstenaars. ʼn Wonderlik eiesoortige, keurig-verwerkte en inspirerende werk wat jou meevoer na die verste uiterstes van jou binneste, waar Refentse jou aanvuur om deel van die liefdegenerasie te wees – ʼn móét vir enige goeie musiekversameling!

Op 14 November is dit André van der Walt wat die gehoor vooraf gaan vermaak. Vir meer inligting skakel Die Blou Hond by 012 348 8820 of stuur ʼn e-pos na [email protected] om kaartjies te bespreek.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Op die planke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae