[Resensie] ‘Geheime taal’ voer jou mee

 Geheime-taal.jpg

Geheime taal met Lizz Meiring (Foto: Aardklop)

In die Victoriaanse tyd was daar meer as 400 woordeboeke wat die simboliek van blomme beskryf het. Lizz Meiring het dit haarfyn gaan bestudeer en so is haar jongste solovertoning, Geheime taal, gebore.

Wanneer ʼn mens aan Meiring dink word, kom woorde soos pret, komedie en lekker lag by jou op. Geheime taal het egter ʼn kinkel in die kabel.

Vroeg al in die produksie besef jy Freda, die oujongnooi-bloemiste, kruip eintlik agter haar blomme weg. Sy kommunikeer met haar kliënte via internet en e-pos. Dit is asof die blomme haar toevlug is. Elke blom vertel immers ʼn eie storie.

In haar wêreld skep sy ʼn taal wat net sy en die blomme verstaan, ʼn geheime taal. Tot eendag toe iemand anders met haar begin kommunikeer in dieselfde taal. Jy raak opgewonde saam met Freda oor die vooruitsig van ʼn wêreld buite haar blommewinkeltjie. Die gehoor word gevange gehou tot aan die einde, ʼn uiters verrassende einde.

Meiring voer jou mee na Freda se wêreld. Jy het empatie met haar. Jy lag, daar is komiese oomblikke, maar jy besef die heeltyd dat daar meer skuil agter haar bravade. Daar is ʼn diep hartseer wat deurskemer. Sy voer jou in so ʼn mate mee dat jy net nog langer wil kyk, en graag die storie wil laat aangaan.

Die talentvolle Meiring is die skrywer van die stuk en ook die regisseur daarvan.

Geheime taal is op Aardklop in die POK-hoofsaal te sien, vandag, 5 Oktober, om 20:00 en 6 Oktober om 09:30.  Kaartjies kos R120.

Aardklop ondersteun die Teaterbystandsfonds – die kunste en vermaaklikheidsbedryf se enigste hulpfonds. As geregistreerde niewinsgewende-organisasie (wat 18 A-belastingaftrekkingsertifikate uitreik) is die TBF totaal afhanklik van donasies om veral hulpbehoewende bejaarde teatermense te onderhou. Jou donasie is die applous wat ʼn lewe kan red.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.