SAG-benoemings: ‘Squid Game’ maak geskiedenis

Die aktrise Helen Mirren is vereer vir haar lewenslange bydrae. (Foto: Facebook)

Dit is toekenningseisoen in Hollywood en die benoemings vir die 28ste jaarlikse Screen Actors Guild (SAG)-toekennings is Woensdag op Instagram Live deur die aktrises Rosario Dawson en Vanessa Hudgens aangekondig.

Die SAG-toekennings is een van die seisoen se voorste geleenthede en vereer jaarliks uitmuntende werk in die rolprent- en televisiebedryf.

Die rolprente House of Gucci en The Power of the Dog loop voor in die rolprentkategorieë met drie benoemings elk.

Lady Gaga (House of Gucci), Jessica Chastain (The eyes of Tammy Faye), Olivia Colman (The Lost Daughter), Jennifer Hudson (Respect) en Nicole Kidman (Being the Ricardos) sal meeding in die kategorie vir beste aktrise in ʼn hoofrol.

Kidman het onlangs die Golden Globe-toekennings huis toe gevat vir haar rol as Lucille Ball in Being the Ricardos.

Javier Bardem (Being the Ricardos), Benedict Cumberbatch (The Power of the Dog), Andrew Garfield (Tick, Tick… Boom), Will Smith (King Richard) en Denzel Washington (The Tragedy of Macbeth) is benoem in die kategorie vir beste akteur in ʼn hoofrol.

Smith het die Golden Globe-toekenning ingeoes vir sy rol in King Richard, waarin hy die rol van die tennissterre Venus en Serena Williams se pa, Richard Williams, vertolk.

Ben Affleck (The Tender Bar), Bradley Cooper (Licorice Pizza), Troy Kotsur (Coda), Jared Leto (House of Gucci) en Kodi Smit-McPhee (The Power of the Dog) is benoem vir hulle ondersteunende rolle.

Caitriona Balfe (Belfast), Cate Blanchett (Nightmare Alley), Ariana DeBose (West Side Story), Kirsten Dunst (The Power of the Dog) en Ruth Negga (Passing) is ook benoem vir hul ondersteunende rolle.

Dit is toekenningseisoen in Hollywood en die benoemings vir die 28ste jaarlikse Screen Actors Guild (SAG)-toekennings is Woensdag bekend gemaak. (Foto: Facebook)

Die rolverdelings van Belfast, Coda, Don’t Look Up, House of Gucci en King Richard is benoem vir beste ensemble-rolverdeling in ʼn rolprent.

Die televisiereekse Succession en Ted Lasso het elkeen vyf benoemings ontvang, terwyl Mare of Easttown, The Morning Show en Squid Game elkeen vier benoemings ontvang het.

Squid Game is benoem vir beste aksievertoning deur ʼn toertjie-ensemble in ʼn komedie- of dramatelevisiereeks, beste akteur in ʼn dramareeks vir Lee Jung-jae, beste aktrise in ʼn dramareeks vir Jung Ho-yeon en beste ensemble-rolverdeling in ʼn dramareeks.

Dit is die eerste keer in SAG-geskiedenis dat ʼn nie-Engelse reeks, asook die eerste keer dat ʼn Koreaanse reeks, deur die SAG-toekennings erken word.

The Handmaid’s Tale, The Morning Show, Succession en Yellowstone is ook benoem in die kategorie vir beste ensemble-rolverdeling.

Murray Bartlett (The White Lotus), Oscar Isaac (Scenes from a Marriage), Michael Keaton (Dopesick), Ewan McGregor (Halston) en Evan Peters (Mare of Easttown) asook Jennifer Coolidge (The White Lotus), Cynthia Erivo (Genius: Aretha), Margaret Qualley (Maid), Jean Smart (Mare of Easttown) en Kate Winslet (Mare of Easttown) is onderskeidelik in die kategorieë vir beste akteur en aktrise in ʼn televisie- of beperkte reeks benoem.

Smart is ook benoem vir haar rol in Hacks, terwyl Billy Crudup, Jennifer Aniston en Reese Witherspoon almal benoem is vir hul rolle in The Morning Show.

Die ikoniese aktrise Helen Mirren sal vanjaar die toekenning vir lewensbydrae ontvang.

WarnerMedia het skoonskip gemaak met altesaam 18 benoemings, onderskeidelik vir dié maatskappy se rolprentafdeling Warner Bros., sowel as die stromingsafdelings HBO en HBO Max.

WarnerMedia se telling neem toe as die programme wat hy vervaardig vir ander verspreiders soos Apple en Netflix, waaronder Ted Lasso en The Kominsky Method, ingereken word, wat die telling tot altesaam 26 benoemings opstoot.

Netflix het altesaam 17 benoemings ontvang in sowel die rolprent- as die televisieafdelings en Disney het altesaam 13 benoemings ingeoes danksy hulle stromingsdienste Hulu en Disney Plus.

Die SAG-toekennings word op Sondag 27 Februarie by die Barker Hangar in Santa Monica, Los Angeles, uitgedeel.

Hier is ʼn volledige lys van die benoemings.

Bykomende bronne: Variety, People.com, sagawards.com

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Belinda ·

Wel ek het Squid Game baie geniet en het episode na episode gekyk. Dis bietjie iets anders as jou gewone ou aksie / drama / komedie. Hoop net as nr2 uit kom, dat dit net so goed gaan wees want soms is die sequels nie so goed soos die eerste nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.