SA’ner se eenvoudige kuns wêreldbekend

Adele Bantjes (Foto: Verskaf)

Deur Yolanda Wessels

Adele Bantjes is ’n selfopgeleide kunstenaar, maar haar inspirasie en kunstigheid ken geen perke nie. Vandat die kunssaadjie in haar ouma se plaaskombuis geplant is, was daar geen keer aan haar kreatiwiteit nie. Sy is ’n heeltydse kunstenaar en skilder op doek en papier in gemengde media en het ook onlangs begin met beeldhouwerk.

Gebore in Roodepoort, Gauteng, het Adele begin skilder ná hoërskool in die prentjiemooi dorpie Zastron in die Suidoos-Vrystaat.

“Ek is van kindsbeen af kreatief, maar daar in my ouma se plaaskombuis is die kunssaadjie geplant. Ek het oor haar skouer geloer na al die wonderlike kunswerke wat sy geskep het en dit bewonder. Van die mooiste kaartjies tot skilderye. Sy was my grootste inspirasie en ek het haar graag gena-aap.”

Haar ouers, Albert en Elize, woon in Centurion. Haar boetie, AJ, is ’n dekade jonger as sy en haar suster, Karen, is ses jaar jonger as sy. Adele is die enigste een in haar familie wat in die kunste is. Behalwe haar ouma, is haar ma en pa ook baie kreatief.

Adele vertel sy is ’n selfopgeleide kunstenaar. Alhoewel sy baie graag wou gaan studeer het, het finansies in die pad van dié droom gestaan en het sy haarself geleer.

“Ek glo nie die wonderlike geleenthede wat die afgelope tyd oor my pad gekom het, sou in my kunsloopbaan gerealiseer het as ek kuns of iets anders gaan studeer het nie. Ek glo daarin dat ’n mens se pad uitgewerk is in ’n bepaalde rigting vir ’n bepaalde rede. Alles wat ek in my lewe deurgemaak het, het die styl en rigting van my kuns beïnvloed.”

Adele woon op Die Dam, net anderkant Gansbaai. Die Dam is ’n pragtige vakansieoord in die Overberg, bekend vir sy beeldskone natuur en visvangparadys.

“Binne minute se stap is ek by die see of in die bos. Die ongelooflike mooi natuur hier dien as groot inspirasie vir my. Meeue, meerminne, bote en vuurtorings maak gereeld hul verskyning in my kunswerke.”

Sy is ongetroud en het geen kinders nie en sy deel haar tuiste met haar geliefde ringnek-parkiet, Vlooi.

“Hy het ’n persoonlikheid wat groter is as hy. Ek deel graag videos van sy manewales op my Facebook-kunsblad en hy het boonop sy eie skildery waaraan hy so dan en wan verf.”

(Foto: Verskaf)

Die beplanning is om sy abstrakte werkie eendag op te veil vir ‘n dierewelsynsorganisasie. Vlooi se grootste talent is egter nie skilder nie, maar om opera te sing, so op sy unieke manier.

As jong kunstenaar was Adele versot op Marc Chagall se kuns oor mense en diere wat vlieg.

“Sy kuns het my verbeelding aangegryp. Die moontlikhede was eindeloos. Kuns is nie net meer perfekte portrette van mense en landskappe nie. Dit is ’n manier om wat in my verbeelding is, uit te beeld en lewe te gee, selfs al is dit meerminne en katte wat viool speel. Sy verbeeldingryke kuns het my geïnspireer om my kuns vreesloos te begin beoefen.”

Adele sê sy put inspirasie uit die natuur, die spirituele, fantasieë, diere, mense, liefde, empatie en alles wat haar hart roer. Sy raak veral kinderlik opgewonde oor ‘n reënboog en ‘n spinnerak. Vincent van Gogh se Starry Night gryp haar verbeelding aan en sy wonder dikwels wat in sy gedagtes aangegaan het toe hy dié skildery geskilder het. Die kolkende malende sterre lug, waarin alles verbind is.

“Ek dink Vincent het iets van die heelal verstaan wat min mense kon begryp. Ek is lief om die skildery so hier en daar in van my kunswerke in te verf – ek glo nie Vincent sou omgee nie.”

Sy vertel sy het absoluut geen roetine nie en elke dag ontvou verskillend.

“Ek probeer wel om elke oggend te gaan stap op die strand, veral wanneer dit laagwater is. Tuinmaak is een van my grootste passies, so ek ruim ook tyd in my dag in vir my geliefde plante. Maar tyd en datum bestaan nie regtig vir my nie, ek werk op onkonvensionele tye. Ek sal sommige aande werk, en dan dalk bietjie laat lê in die oggend, of op ’n Maandag niks doen nie en op ’n naweek werk.”

Alhoewel haar werktye vreemd is, werk sy hard en prioritiseer altyd haar kliënte se bestellings. Maandeinde-betalings raak haar ook soos enigeen, en haar kuns is haar grootste inkomste.

Haar gunsteling medium is akrielverf op papier, maar ook beeldhouwerk in klei. Klei bied weer heel ander moontlikhede en die gevoel daarvan in jou hande gee ’n ander soort bevrediging.

“Ek sal graag eendag met olieverf wil speel, maar is net so gewoond aan akrielverf wat lekker vinnig droogword. Ek is wat genoem word ‘n “beach comber”, ek tel enige iets op die strand op, van seegras, glas, klippe en dryfhout. Ek kry net nie baie tyd om met my dryfhout te werk nie, maar ek skep graag bote daarmee. Soveel interessanthede spoel uit en die potensiaal is eindeloos! ‘n Geroeste hoek word ‘n skippie se anker, ’n dobbertjie word ’n lewensboei. Selfs die seile van my skepe maak ek van ou kledingstukke wat uitgespoel het. Ek geniet die houtwerk so tussendeur die skilder en beeldhou.”

(Foto: Verskaf)

Adele het nog altyd daarvan gehou om haar kuns in ‘n naïewe styl te doen. Sy hou van die kinderlike onskuld, humor, vreugde en helder kleure. Dit is kuns wat altyd ‘n glimlag op mense se gesigte laat. Om kuns te verpersoonlik deur mense se gunsteling temas, kleure, blomme of diere vir hulle te beeldhou of skilder, vorm definitief deel van haar suksesvolle verkope.

“Ek werk saam met my kliënte om vir hulle ‘n droomkunswerk te skep. Familie- en troeteldierportrette in my unieke naïewe styl is baie gewild. Ek gebruik realiteit en fantasie om iets baie persoonlik vir my kliënte uit te beeld. Sommige temas is nogal ’n uitdaging, maar solank ek my naïewe “twist” aan ’n tema kan gee, geniet ek my gate uit!”

(Foto: Verskaf)

Sy het wel ’n paar boeke met sketse vir nuwe ontwerpe en kan nie wag om hulle te omskep in kunswerke nie, maar opdragte kry altyd voorkeur.

“Ek kry soms vreemde opdragte wat navorsing verg, maar geniet al die verskillende fasette terdeë en ek leer altyd iets nuuts. Maar wat vir my die meeste beteken, is die spesiale boodskappe van waardering wat ek ontvang van my kliënte wanneer hulle hul kunswerke uit die verpakking haal. Veral wanneer ek ‘n portret ter nagedagtenis aan ‘n geliefde of ’n troeteldiertjie vir hulle gemaak het, en die trane loop – nie net vir hulle nie, maar vir my ook. Dit sulke kere wanneer ek weet dat kuns my roeping is, en dat ek op my onskuldige, eenvoudige manier, harte kan aanraak.”

Adele het al wyd in Suid-Afrika uitgestal en haar werk internasionaal ten toon gestel in Naïve-kunsuitstallings in Katowice, Pole, Jerusalem, Israel en Kanada. Haar werk vorm deel van talle private en korporatiewe versamelings in Suid-Afrika en internasionaal in die Verenigde Koninkryk, Ierland, Nieu-Seeland, Panama, die Ooste, Switserland, Holland, Australië, Kanada en die VSA. Sy het uitgestal by die Grahamstadse Kunsfees, ABSA L’Atelier, Centurion-kunsgalery, Unlimited-kunsgalery, Alice-kunsgalery en Galeria Szyb Wilson in Katowice, Pole, The Naïve Light over Jerusalem-kunstefees in Israel by the Hebreeuse Universiteit, die Musée International d’art naïf de Magog in Kanada en by The Art Link Gallery in Parkhurst.

In McDonald’s se ikoniese skyfieboks-projek is 500 kunstenaars van oor die hele wêreld gekies vir ‘n projek om die ikoniese skyfieboks te herontwerp ter viering van die Fifa-Wêreldkampioenskap in 2014. Uit 500 is 24 kunstenaars gekies om die ontwerp te doen en van hierdie ontwerpe is ‘n finale 12 gekies om op die beperkte boksies te druk. Heart of the Game deur Adele is gekies weens die universele tema wat gemik was om aanslag te vind by alle ouderdomme en kulture.

“My drome vir die toekoms is om my unieke ontwerpe op dekor te druk op en so my eie handelsnaam te skep. Ek is baie opgewonde en sien uit na al die moontlikhede.”

Haar kuns en haar vermaaklike, bekkige ringnek-papegaai, Vlooi, kan op haar Facebook-blad, The Naive Art of Adele Bantjes, besigtig word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Snowball ·

So uniek.!!’n Mens verdwaal in al die kleur. Mal oor die meerminne in die visblik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.