‘Sarie Voorbladgesig’ het vanjaar twéé wenners

Yolani Abrahams op die voorbald van Sarie (Foto: www.sarie.com)

Die tydskrif Sarie het gisteraand die wenners van die bekende Voorbladgesig-kompetisie aangekondig.

Vanjaar was daar nie net een nie maar twee wenners. Yolani Abrahams, ʼn 25-jarige patisseriesjef en bakkery-eienaar van Ceres, en Nadia de Wet, ʼn 34-jarige boervrou van Standerton met ’n handelsgraad, is tydens ’n glansgeleentheid by die Menlyn Boutique Hotel in Pretoria as die wenners van Sarie se Voorbladgesig vir 2017 aangekondig.

Dié twee sal nou saam op die voorblad van die Oktober 2017-uitgawe verskyn. “Elkeen kry ʼn eie voorblad en die twee voorblaaie sal vanaf Maandag 18 September landwyd langs mekaar op die rak pryk,” het Sarie op die tydskrif se webwerf aangekondig.

Michélle van Breda, redakteur van Sarie, het gesê albei voorblaaie is volmaak – die een pure sonskyn, die ander eenvoudig boeiend ­– en sáám is hulle “net magic”.

Vanjaar was die eerste keer dat Sarie se Voorbladgesig-kompetisie ook in ʼn televisiereeks omskep is. “Dit was opwindend, want almal kon meer van die finaliste sien en hulle leer ken,” het Van Breda gesê.

Die gala-aand van die kompetisie, waar die wenners aangekondig word, sal Maandag om 17:30 op kykNET gebeeldsaai word.

Nadia de Wet op die voorblad van Sarie (Foto: www.sarie.com)

Oor die afgelope sewe jaar het meer as 50 000 vroue hulle al vir die kompetisie ingeskryf en die besluitneming word nie makliker nie. Dit was wel die tweede agtereenvolgende jaar dat twee wenners eerder as een aangekondig is.

“Die mededinging was straf, elke jaar word dit strawwer, en dit maak die finale keuse nog moeiliker. Maar op die ou end práát die foto’s. Is ek gelukkig met vanjaar se wenners? Nie gelukkig nie … ek’s over the moon! Hierdie twee voorblaaie is baie anders as dié van ons vorige wenners. Tog is hulle in voorkoms én in emosie in die kol, 100% Sarie-voorblaaie. Boonop is hulle van internasionale gehalte,” het Van Breda gesê.

Drie vorige wenners, Sarie Voorbladgesig vir 2013 se Marike Nel, en die twee wenners van Sarie Voorbladgesig vir 2016, Elmaré Schutte en Nicola Smit, het ook die geleentheid bygewoon.

Nog bekendes wat die geleentheid bygewoon het, was onder andere Brümilda van Rensburg, Pascal Pienaar, Christel van den Bergh, Nadia Beukes en Lynelle Kenned.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

LB ·

Ai ek het styf duime vasgehou vir Cato! maar geluk aan die wenners.

Polities korrek.... ·

Dis nou sommer n pot nonsense!
Mens kry nie 2 X1ste plekke nie JAMMER!
Dis omdat ons kinders mos geleer word “almal is wenners” of “daag net op dan is jy klaar n wenner” ….nou kan die grootmense ook nie meer GOEIE GESONDE KOMPETISIE hanteer nie!
2 wenners…. ai tog sit maar almal wat ingeskryf get op die voorblad

Puris ·

van Breda se Afrikaans is pateties vir iemand wat redakteur van n afrikaanse tydskrif is.

Anoniem ·

Ek het geraai dit gaan of Nadia of Yolani ( of Elanza ) wees. Na al die jare leer ken mens watter voorkoms / “look” die Sarie redakteurs soek. Dit gaan oor die gesigsuidrukking – die foto moet “lewe”.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.