Só het boer Adriaan die jawoord gevra

Boer Adriaan en Helene het by die vlei op die plaas verloof geraak (Foto: kykNET)

Die geliefde Boer soek ʼn vrou-paartjie, Adriaan Geldenhuys en Helene Retief, wat onlangs verloof geraak het, het nou ook verklap hoe Geldenhuys die jawoord gevra het.

Maroela Media het vroeër berig Retief het Maandagaand op Facebook bevestig dat hulle verloof is.

Geldenhuys het aan kykNET gesê hy het van die eerste ontmoeting af geweet Helene is die een vir hom. “Alles voel net reg en ek weet dit gaan sy wees,” het hy gesê.

Geldenhuys en Retief het maande lank ʼn langafstand-verhouding ontwikkel ná die tiende seisoen van Boer soek ʼn vrou. Retief bestuur ʼn restaurant in Kaapstad, en Geldenhuys is voltyds op sy plaas in die Langeberg-distrik. Hulle het probeer om mekaar soveel moontlik te sien.

“Ek het vir haar gesê ons mag nooit twee weke laat verbygaan voordat ons mekaar sien nie. Vir my was dit belangrik om die 300 km tussen ons so kort moontlik te maak sodat ons verhouding kan groei,” het Geldenhuys gesê.

Retief het toe vroeër vanjaar haar tasse gepak en van Kaapstad af plaas toe getrek.

Die vlei op boer Adriaan se plaas (Foto: kykNET)

“Ons wêrelde was vir ’n baie lang tydperk uiteenlopend verskillend. En tog, te midde van dít alles, het ons mekaar gehad, mekaar ondersteun en vertrou, en ek dink daardie tyd het vir ons gewys dat dit waaraan ons werk nie verniet is nie, dat dit iets is wat kwaliteit is en vir ewig sal hou,” het Retief gesê.

Hoewel Geldenhuys nie geweet het wanneer hy haar sou vra nie, het hy presies geweet waar – langs die vlei op sy plaas. Hy het ook die ring al ʼn hele ruk in sy besit gehad.

“Die Saterdag was ons by ’n troue. Toe ons die Sondag terugkom by die huis, was dit die perfekte Lentedag ná die onlangse reën. Op pad huis toe het ek gedink: ‘Hoekom moet ek langer wag?’ Ek het reeds vroeër die week, sonder haar wete, [gaan ouers vra] in die Kaap,” het hy vertel.

“Toe ons by die huis kom, het ek vir haar gesê ek gaan ’n draai ry. Ek het hout en stoele na die vlei geneem, ’n koelboks gepak en dit alles daar onder ’n boom gaan wegsteek. Terug by die huis, het sy klaar gestort, en ek het haar gevra om saam met my te kom. Uiteindelik by die vlei raak ek so senuweeagtig dat ek 500 m verby my spot stap. Dit was darem nog steeds mooi daar,” het hy gesê.

Retief het gesê dat sy niksvermoedend was oor die geleentheid omdat niks op die dag anders was as gewone Sondae nie.

Boer Adriaan het Helene se ring al weke van tevore gekoop (Foto: kykNET)

“Dit was deel van ons normale Sondagmiddag-roetine om ’n rustige dag te hê, koffie te drink, wasgoed te was, na die skape te stap, en op die plaas rond te ry – hy in sy plaasklere en ek in my oefenklere. Ek was eintlik gereed vir ’n middagdraffie later, so ek het geen grimering aangehad nie.

“Adriaan vat my toe na die vlei. Volgens hom wou hy my gaan wys hoe dit gereën het. En daar gaan die man op sy knie. Ek het dadelik begin huil, want ek het nie verstaan wat aangaan nie – en ek was vas oortuig iemand sit in die bos met ’n kamera besig om my af te neem terwyl ek geen grimering aanhet nie. Ek kry toe so skaam.

“Maar toe besef ek dit is eintlik eenvoudig die rou oomblik alleen saam met mekaar, ’n oomblik waarin ons tevrede is met net die eenvoudige dinge in die lewe.”

Volgens die paartjie gaan hul droomtroue ’n dag wees waartydens almal wat vir hulle spesiaal is, genooi sal word – ’n dag waartydens almal dans tot die son opkom. Vir Geldenhuys en Retief is dit belangrik dat almal wat dit bywoon saam met hulle die dag sal geniet. En daarom wil hulle dinge eenvoudig genoeg hou om dít te verwesenlik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Jakkalsdraai ·

Die pada wou gaan opsit met sy nooi in die vlei, h-hm h-hm ham!!

Philip ·

Baie geluk. ‘n Pragtige paartjie en mag die Here hul paadjie vorentoe ryklik seën.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.