Suidoosterfees, Atlantic Studio’s laat inryteater herleef

Francois van Coke

Die Suidoosterfees en Atlantic Studio’s laat van 4 tot 15 November die klassieke inryteater herleef.

Feesproduksies trek ʼn splinternuwe baadjie vir dié geleentheid aan: Gehore gaan uit die gemak en veiligheid van hul motors na produksies op die silwerskerm kyk. Teatergangers kan boonop uitsien na heerlike padkafee-etes wat vanuit die Kokkedoorstoor voorberei word.

“Gehore is uitgehonger vir teater- en musiekproduksies. Die fees se inryteater bied ʼn veilige uitlaatklep, danksy die ondersteuning van borge en die samewerking met Atlantic Studios,” sê prof. Brian Figaji, voorsitter van die Suidoosterfees-direksie.

Produksies word regstreeks op ʼn buitelugverhoog aangebied en opgeneem. Inryteatergangers skakel dan in hul motors op ʼn FM-radiofrekwensie in om na die klankbaan van produksies te luister. Die geleentheid voldoen ten volle aan Covid-19-protokol.

Produksies om na uit te sien is Klopse Jol!, PJ Powers en die Tygerberg-kinderkoor, Die Variety Show that skriks vir niks, Lottering in Lockdown, Francois van Coke en Early B, Koortjies met Jonathan Rubain en Lag my kla.

PJ Powers (Foto: Kevin Mark Pass)

In Klopse Jol! tree die Adams-broers saam met ʼn eg Kaapse Maleierkoor, Klopsegroep en ʼn tienstuk-orkes op. Die legendariese PJ Powers span kragte saam met die Tygerberg-kinderkoor om ʼn onvergeetlike musiek-extravaganza na die inryverhoog te bring. Feesgangers kan uitsien na treffers soos ‘Welcome to Africa’, ‘The right to learn’, ‘Jabulani’, ‘The world in union’ en ʼn massauitvoering van ‘Shosholoza’.

ʼn Gesamentlike optrede deur Francois van Coke en Early B bring Suid-Afrika se grootste rocker en rymkletser op een verhoog bymekaar. Gary Naidoo tree op in Die Variety Show that skriks vir niks, ʼn vertoning wat die verhoog in ligte laaie laat opgaan met skreeusnaakse komedie en ʼn jol soos net die Kaap kan gooi. In Marc Lottering se produksie vertel die immergewilde grapjas van sy avonture gedurende die grendelstaat. Sy vertellings van aanlyn vergaderings en tuisonderrig sal gehore laat skaterlag.

Lag my kla is die uitvloeisel van ʼn aanlyn kompetisie wat begin is om nuwe komedie-talent vir verdere ontwikkeling te identifiseer. Met dié projek van Son, kykNET en die Suidoosterfees het Shimmy Isaacs, Rezah Forbes en Solomon Cupido nuwelinge se talent geslyp. Die wenners van 2020 se Lag my kla-kompetisie tree saam met hulle op.

Emo Adams is die aanbieder van kykNET se talentkompetisie, ‘Maak my famous’. (Foto: Verskaf)

Die eerste Afrikaanse gospel-televisiereeks, Koortjies met Jonathan Rubain, is een van die gewildste reekse ooit op kykNet en Kie. Gaste wat in die reeks te sien was, kom byeen vir ʼn aanskoulike verskeidenheidsvertoning by die inryteater.

Kaartjies kos vanaf R250 per motor, en kan by Computicket bespreek word. Besoek die Suidoosterfees se webwerf vir meer inligting. Verblyfpakkette by City Lodge is beskikbaar teen R1 600 vir twee persone. Die pakkette sluit verblyf, ontbyt, ʼn inryteaterkaartjie en inry-ete in.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.