Talle kunstenaars by Afrikaanse fees in Nederland

‘n Toneel uit “My naam is Ellen Pakkies” met Vinette Ebrahim en Christo Davids

Van Coke Kartel, Jack Parow, Karin Hougaard, Etienne van Heerden, David Kramer, Emo Adams, Gert Vlok Nel, die Radio Kalahari Orkes, Antjie Krog en Marita van der Vyver is maar ʼn paar van die name wat aan die Festival voor het Afrikaans van 13 tot 16 Junie in Nederland gaan deelneem.

Die finale program vir dié fees, wat vir die tweede keer aangebied word, is pas bekend gemaak. Die eerste Festival voor het Afrikaans, wat in 2011 aangebied is, was baie suksesvol en al 2 000 kaartjies is uitverkoop. Die fees word hierdie jaar op 13 Junie in De Melkweg in Amsterdam aangebied en van 14 – 16 Junie in die Theater aan het Spui in Den Haag.

Van die voorste Afrikaanse musikante, digters, skrywers en akteurs gaan by die fees optree. “Sowat 700 van die 2 500 kaartjies wat beskikbaar gestel is, is reeds verkoop,” het Joris Cornelissen, feesdirekteur, gesê.

Karin Hougaard, Etienne van Heerden, David Kramer, Emo Adams, Gert Vlok Nel en die Radio Kalahari Orkes is die Vrydagaand te sien. Antjie Krog en Marita van der Vyver sal Saterdag boekvoorlesings doen.

Het leven van Adam Small word Saterdagoggend vertoon en Die Wonderwerker, Katinka Heyns se rolprent oor Eugène Marais is Saterdagmiddag te sien. Die bekroonde toneelstuk, My naam is Ellen Pakkies, word ook Saterdag opgevoer. Verraaiers word Sondagmiddag vertoon.

Die volledige program is hier beskikbaar. Kaartjies is hier en hier beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Gemsbok ·

Hierdie fees word oorheers deur derderangse Afrikaanse kunstenaars.

Dis ook te verstane, want met net 2500 kaartjies wat verkoop word sal dit kwalik met die Boertjiefees op Bultfontein as trekpleister vir Afrikaanse talent kan meeding.

Die organiseerders van hierdie fees sal hul solkies moet optrek, anders doen hulle Afrikaans se beeld meer kwaad as goed.

Chris ·

O?! En watter kunstenaars sou jy as eersterangse Afrikaanse kunstenaars omskryf?

Gemsbok ·

Diegene wat al die hoogste erkenning en verkope in Suid-Afrika bereik het.

Paul ·

Groot verskil tussen “hoogste erkenning” en “hoogste verkope”…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.