“Binne ons is heelalle, oneindige moontlikhede.”
Gideon Lombard se vertolking van die teks in Goed wat wag om te gebeur gee vir jou ʼn eenvoudige verduideliking van hoe die DNS in jou die res van jou lewe kan bepaal.
Die stuk is tans te sien by die Woordfees in Stellenbosch. Lombard verskyn op die verhoog saam met Antoinette Kellermann en Emma Kotze, met Philip Rademeyer in die regisseurstoel. Dié toneelstuk is ʼn Afrikaanse weergawe van Rademeyer se The Graveyard, ʼn gestroopte interpretasie van Henrik Ibsen se Ghosts.
Die verhaal raak jou hart, omdat dit soveel maatskaplike euwels takel wat ons gemeenskappe teister.
Goed wat wag om te gebeur is ʼn swaar stuk en roer kwessies aan soos dwelmmisbruik en huishoudelike geweld.
Kellerman, Lombard en Kotze gaan vernuftig te werk om hul karakters te ontwikkel en te verken.

Antoinette Kellermann en Gideon Lombard in “Goed wat wag om te gebeur”. (Foto: Pieter Lombaard/verskaf)
Lombard se woede-uitbarstings is kragtig, ontstellend en onthutsend. Hy was sewe jaar gelede reeds in die Engelse weergawe van die teaterstuk te sien, maar beskou die Afrikaanse weergawe nogtans as ʼn nuwe projek en uitdaging. Daar is immers min dinge wat soveel kulturele diepte inhou soos ʼn moedertaal.
Die kyker word met die stuk gekonfronteer met die vraag: Wat is inherent deel van jou en wat gaan jy daarmee doen? Gaan jy ʼn nuwe koers inslaan, of gaan jy jou ook maar net oorgee aan die natuur?
Feesganger Aydn Parott van Mosselbaai meen dis ʼn tragiese verhaal wat op ʼn boeiende wyse gedeel is. Hy was ook beïndruk met die gebruik van spasie op die verhoog, veral Lombard wat deurlopende slegs op ʼn rusbank en direk rondom die bank beweeg.
Goed wat wag om te gebeur is by die Aardklop-kunstefees in Potchefstroom bekroon as die beste nuutgeskrewe teks.
- Dit wys nog Sondag om 10:00 by die Woordfees. Koop jou kaartjies hier.
Met: Gideon Lombard, Antoinette Kellermann, Emma Kotze
Moontlik gemaak deur Toyota US Woordfees, Momentum Beleggings Aardklop, NATi
Regisseur, skrywer, vertaling en stelontwerp Philip Rademeyer
Vervaardiger Toyota US Woordfees, Momentum Beleggings Aardklop
Beligtingsontwerp Andi Colombo
Produksie- en verhoogbestuur Amber Fox-Martin