Aardklop 2014: “Dogma” ontstel, trap op tone en laat jou dink

Foto uit "Dogma" deur Aardklop-mediakantoor verskaf

Foto uit “Dogma” deur Aardklop-mediakantoor verskaf

ʼn Dogma is ʼn “beginsel of stel beginsels wat deur ʼn gesagsowerheid as die onbevraagtekenbare waarheid neergelê word; wat dien as deel van die primêre basis van ʼn ideologie of geloofsisteem”. ʼn Woordeboekverklaring daarvoor is “ʼn geloof of stel oortuigings wat deur die lede van ʼn groep aanvaar word sonder dat dit bevraagteken of in twyfel getrek word”.

In Dogma word die verhaal vertel deur die oë van ʼn jong man wat sien hoe sy ouers se eens gelukkige verhouding in ʼn krisis gedompel word wanneer sy pa veelvuldige sklerose opdoen. Wanneer die kerk vir Abelard (Erik Holm) verwerp as gevolg van sy buite-egtelike verhouding met Heloise (Tinarie van Wyk Loots), gaan soek die twee vertroosting by ʼn “vrydenkende” kerk, hul vriende Salome (Rolanda Marais) en Herodes (Albert Pretorius) se kerk.

In Dogma kom die dogma van “tradisionele” kerkwees onder die vergrootglas. Dit trap seer op tone, soos mens duidelik kan sien en hoor uit die reaksie van die gehoor. Maar wanneer die pendulum na die ander kant swaai en die karakters, wat nie meer met die dogma van hulle grootwordkerke kan saamleef nie, wegbreek en aansluit by ʼn “vrydenkende” kerk sonder reëls en tradisies, loop hulle hulle vas in ʼn nuwe dogma.

Dit sal moeilik wees om na Dogma te kyk sonder om iewers deur die stuk te voel of dit jou tone is wat raakgetrap word, ongeag jou geloofsoortuigings en kerk-assosiasie (of gebrek daaraan). Maar tog is dit juis wat die stuk probeer regkry – dit vra vrae oor maniere van kerk-hou regoor die spektrum wat deur dié wat dit aanhang, as reg en goed aanvaar word sonder om krities daarna te kyk.

Met tye gee Dogma aanstoot en ʼn mens wonder of jy langer kan sit en kyk wanneer die dialoog grens aan Godslaster. Maar as jy bly sit en kyk, besef jy die kritiek is nie teen God nie, maar teen menslike instellings. Dit sal jammer wees om te vroeg uit te stap, want uiteindelik maak die soekende karakters op hulle eie manier en sonder dat enige dogma hulle voorskryf, vrede met God.

Of jy nou daarvan hou of nie, Dogma is vol waarhede. Soos wanneer Heloise vir Abelard sê: “Mens kan nie met God bargain nie.”

Allerlei ander omstrede en sensitiewe kwessies, soos molestering, rasseverhoudings, buite-egtelike verhoudings, geloofsgenesing, verslawing, aborsie en miskrame kom onder die loep.

Ten spyte van talle ligte oomblikke is Dogma nie ʼn toneelstuk waarin jy terugsit en ontspan nie. Dit laat jou baie vrae vra oor dit wat jy self glo, en waarom jy dit glo.

Die akteurs dra die spanning van die stuk regdeur tot die einde, en elkeen kwyt hulle uitstekend van hul taak.

Dogma is by die KKNK bekroon met ʼn Kanna vir die beste debuutproduksie asook die beste produksie tydens Absa KKNK 2014, en met reg.

Dogma is nie lekker, ligte teater nie, maar dis goed en nodig.

(Ook met Roelof Storm, Marileng Balebye en Bontle Wichterich-Mohane. Regie deur Christiaan Olwagen, choreografie deur Ina Wichterich en musiek deur Charl-Johan Lingenfelder.)

  • Eerste Vesting Kerk, 80 minute, R115
  • 10 Oktober 22:00; 11 Oktober 11:00
  • Klik hier om kaartjies vir Dogma by die Aardklop Nasionale Kunstefees te koop

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.