Aardklop 2014: “Gepiekel” werk mooi met omstrede kwessies

Francois Viljoen en Henriëtta Gryffenberg in die verhoogproduksie, Gepiekel, wat by Aardklop 2014 te sien is Foto: Susan Lombaard, Maroela Media

Francois Viljoen en Henriëtta Gryffenberg in die verhoogproduksie, Gepiekel, wat by Aardklop 2014 te sien is Foto: Susan Lombaard, Maroela Media

Ester Appelgryn bottel álles: groenvye, suurappeltjies en rabarber. Sy en haar man, Josias, leef as pastoriepaar ‘n idilliese lewe op ‘n Vrystaatse dorpie saam met hul effens rebelse tienerdogter, Ester, en naïewe, goedgelowige seun, Petrus. Selfs wanneer Josias siek word, ontspoor dit nie die gesinnetjie nie: Hy het immers ‘n visioen ontvang dat hy 100 dae ná sy afsterwe uit die dood gaan opstaan. Daarom hou die sterk Ester, onwrikbaar in haar geloof, sy liggaam vir 100 dae lank as ‘t ware gepiekel op die kombuistafel. Petrus wag soos ‘n klein seuntjie dat sy pa wakker word en die sifdeur oopstoot om sy pyp voor die agterdeur te kom rook. Net Laura rebelleer.

Die sensitiewe onderwerp van opstanding uit die dood wat die afgelope paar jaar heelwat in die media was, word in dié stuk met groot deernis hanteer. ‘n Mens verwag vooraf dat die spot gedryf gaan word met gemeentes wat glo hul leier gaan in sy menslike gedaante uit die dood opstaan, maar in dié stuk sien mens iets van die menslikheid, geloof en ongeloof, onsekerheid, vergifnis en vrees wat deel is van so ‘n gebeurtenis. Gebeur die wonderwerk nie omdat jou geloof nie groot genoeg is nie? Of was dit van die begin af nie bestem om te gebeur nie? Meng mense te veel in om wonderwerke te “laat” gebeur? Al dié vrae kom ter sprake. Want geloof kan blind wees, soos Petrus sê; en ongeloof ook, soos Josias hom antwoord.

“Die dorp het wonderwerke verwerp, en ons daarmee saam,” sê Ester vir haar seun. En later sê Petrus: “Klippe is harte wat hard geword het. ‘n Klip kan nie sing nie omdat hy nie kan vergewe nie.”

Dis lekker om ‘n stuk te kyk wat diepliggende, sensitiewe kwessies so toeganklik aanbied. Gepiekel vermaak, maar laat jou diep dink en jou eie vooroordele onder die loep neem.

Akteurs soos Henriëtta Gryffenberg (Ester Appelgryn) en Marie Pentz (Gerinda Ras) verleen ‘n beleënheid aan die toneelstuk, terwyl ‘n nuweling soos Francois Viljoen (Petrus Appelgryn) verras met die vars vertolking van sy karakter.

Gepiekel is ‘n besliste móét vir die feesganger wat goeie Afrikaanse teater op sy Aardklop-prioriteitslys het. Dis ‘n Clover Aardklop-produksie, vervaardig deur Giep van Zyl, geskryf deur Schalk Schoombie en met regie deur Henry Mylne.

• Girls High, 85 min, R120
• 8 Okt 12:00; 9 Okt 09:00; 10 Okt 17:00; 11 Okt 12:00
Klik hier om kaartjies te koop.

Lees ook:
Video: “Gepiekel” op die planke by Aardklop
Aardklop 2014: Kom lag lekker saam!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.