Aardklop 2014: “Rondomskrik” konfronteer jou met rou emosie en harde werklikheid

Shaleen Surtie-Richards in "Rondomskrik" Foto aan Maroela Media verskaf deur Aardklop-mediakantoor

Shaleen Surtie-Richards in “Rondomskrik” Foto aan Maroela Media verskaf deur Aardklop-mediakantoor

Rondomskrik spreek ontstellende waarhede aan wat deel is van die realiteit van ʼn groot deel van ons land se inwoners – realiteite waarmee hulle te kampe het terwyl ons beskermd in kunstefeesteaters sit en ʼn traan stort oor stories soos hierdie. Min van ons weet waarskynlik veel meer van Anene Booysens, wat verlede jaar in Bredasdorp wreed verkrag en vermoor is, as die kliniese feite wat ons in die media gelees het. Rondomskrik konfronteer jou met ʼn storie soortgelyk aan Anene s’n, reg voor jou op die verhoog.

Dis ʼn storie wat vertel van kinders se drome wat in hul ma se buik al verdrink word, en hanteer die harde realiteit van drankmisbruik, geweld, molestering en verkragting, en die invloed wat dit op ʼn gemeenskap se kinders het. Wie is die skuldiges? Wie lewer hierdie kinders uit aan die bose?

Shaleen Surtie-Richards vertolk die rol van die juffrou Jasmien Jacobs, ʼn “uitkyk-antie” in haar gemeenskap. Dis dié anties wat uitkyk vir die gemeenskap se kinders. Jasmien se groot droom vir die kinders wat in haar klas beland, is dat hulle vlerke moet kry en vlieg, weg van Rondomskrik af. Nou en dan kry sy dit reg.

Dan beland Antjie (Crystal-Donna Roberts) met die fluweelstem in haar klas. ‘n Kind van 14 wat al té veel gesien en ervaar het in haar kort lewe en wat lankal haar drome prysgegee het. Haar ma is in die tronk en sy en haar hakkelende boetie beland in die sorg van Rose (Lee-Ann van Rooi). Vir Rose, wat te diep in die bottel kyk, is die kinders bloot belangrik vir die “grant” wat sy van die “government” af kry. En dan raak Antjie haar “currency” om self uit Rondomskrik uit weg te kom.

Juffrou Jasmien word ook Antjie se uitkyk-antie en leer haar dat sy maar mag droom en dat haar mooi sangstem haar vlerke kan wees. Maar dan word haar droom op ‘n ondenkbare wyse kortgeknip.  Wie se skuld is dit? Die “gangster”, haar ma, haar voog, die dopstelsel? Of haar uitkyk-antie sʼn?

Die akteurs maak jou op ‘n rou, eerlike wyse deel van die harde werklikheid van Rondomskrik. Die sosiale kwessies word op so ‘n wyse deur hulle weergegee dat jy nie anders kan as om meegesleur te word deur hierdie hartseer, siek wêreld wat die mens geskep het nie.

Shaleen se rou emosie en trane raak die gehoor diep, en soos altyd kwyt sy haar uitmuntend van haar taak. Roberts se uitbeelding van Antjie, die onskuldige jong dogtertjie, is waarskynlik van die bestes op die verhoog. Richard September, ‘n baie jong akteur wat ook weggestap het met ‘n Kanna-toekenning vir sy rol in die stuk, vertolk oortuigend die rolle van elf verskillende karakters wie se ouderdomme wissel van 14 tot 60. Lee-Ann van Rooi (Rose Mentoor en ander) en Richard September (Doodskis en ander) voltooi die prentjie met uitmuntende spel en ʼn fyn aanvoeling tussen al die akteurs.

Ten spyte van die skokkende aard van Rondomskrik sal jy uitstap met die gerusstelling dat alles oukei sal wees solank daar uitkyk-anties daar buite is.

Hierdie rou verhaal kom uit Rachelle Greeff se pen en die regie is behartig deur Hennie van Greunen.

  • kykNET Gimmies, 90 minute, R120
  • 10 Oktober 20:00, 11 Oktober 09:00
  • Klik hier om kaartjies vir Rondomskrik by die Aardklop Nasionale Kunstefees 2014 te koop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.