Aardklop 2014: Vir ewig en altyd – ʼn meesterstuk in Afrikaanse teater

Marius Weyers en Sandra Prinsloo in "Vir Ewig en Altyd" Foto: Johan Wilke vir Rooi Rose (verskaf aan Maroela Media deur Aardklop-mediakantoor)

Marius Weyers en Sandra Prinsloo in “Vir Ewig en Altyd” Foto: Johan Wilke vir Rooi Rose (verskaf aan Maroela Media deur Aardklop-mediakantoor)

As jy gelukkig is, sien jy by elke kunstefees een of miskien twee sulke stukke wat jou oorbluf laat uitstap sonder dat jy jou mede-teatergangers in die oë kan kyk. Vir ewig en altyd is so ʼn stuk – teater wat van die eerste oomblik tot die laaste tot jou emosies spreek, terwyl jy eers na die tyd begin dink oor al die omstrede kwessies wat in die stuk aangespreek word.

In Vir ewig en altyd kry die teaterganger ʼn kykie in Danie (Marius Weyers) en Pam (Sandra Prinsloo) se laaste ure saam, ná ʼn gelukkige huwelik van 38 jaar. Pam is terminaal siek, en die dokters het besluit om alle behandeling te staak. Maar Pam wil graag met waardigheid sterf, en daarom het sy besluit om dinge in eie hande te neem. Danie is ʼn onwillige medewerker in dié proses.

In Danie en Pam se laaste ure saam diep hulle herinneringe op, gesels oor hul kinders, bely sondes wat nog nooit bely is nie en geniet hulle ʼn laaste maaltyd. Verskeie terugflitse in die nie-lineêre storielyn kleur die prentjie in sodat die kyker verstaan wat die pad is wat die egpaar gestap het en watter besluite geneem moes word vandat Pam gediagnoseer is tot hul laaste aand saam.

Kliniese argumente oor genadedood en die wetlikheid daarvan kry ʼn menslike gedaante. ʼn Duisternis besluite moet geneem word: wie almal daarvan moet weet; watter metode die beste is om te gebruik; of dit plaaslik (waar dit onwettig is) of liewers in ʼn land waar dit wettig is behoort te gebeur; of geliefdes tydens die laaste oomblikke teenwoordig moet wees of nie. Terwyl jy aan die een kant verstaan waarom Pam, na ʼn gelukkige, vervulde lewe, nie kans sien om ʼn stadige en pynlike dood te sterf nie, verstaan jy ook waarom Danie, wat sy met groot deernis haar prins noem, nie die liefde van sy lewe kan laat gaan nie. Wie is die selfsugtige een?

Marius Weyers en Sandra Prinsloo in "Vir Ewig en Altyd" Foto aan Maroela Media verskaf deur Aardklop-mediakantoor

Marius Weyers en Sandra Prinsloo in “Vir Ewig en Altyd” Foto aan Maroela Media verskaf deur Aardklop-mediakantoor

Enigiemand met minder ervaring as dié van Marius Weyers en Sandra Prinsloo sou Vir ewig en altyd waarskynlik laat platval het weens die uitdagende en intense aard daarvan. Weyers en Prinsloo is vir die eerste keer in 26 jaar saam op die verhoog in dié stuk. Die kombinasie van hierdie twee teatermeesters se talent, met ʼn uitstekend vertaalde teks en redigering deur Hennie van Greunen, het ʼn produksie tot gevolg wat die gehoor gevange hou vandat die eerste woord gespreek word tot met die onverwagse einde.

Vir ewig en altyd is ʼn vertaling van Tom Holloway se bekroonde teks And no more shall we part. Die stuk was ʼn topverkoper by die Absa KKNK, Innibos en die Vryfees, en kaartjies vir alle vertonings by Aardklop was voor die aanvang van die fees reeds uitverkoop.

As jy nie een van die gelukkiges was wat kaartjies vir Vir ewig en altyd in die hande kon kry nie, kan jy vir die laaste twee vertonings by Aardklop twee ure vooraf in die ry gaan staan: ‘n beperkte aantal ekstra sitplekke is vir elke vertoning beskikbaar gemaak. Dié ekstra sitplekke kan egter net voor die vertoning by die deur gekoop word en is nie by Computicket beskikbaar nie. Doen gerus die moeite – jy kan nie dié een misloop nie.

• kykNET Gimmies, 90 minute, R120
• Vrydag, 10 Oktober, 16:30; Saterdag, 11 Oktober, 12:30

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.